Gedagte vir die dag: Die hemel is ’n spieël

 spieelbeeld_water_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: 1 Korintiërs 13:11-13

Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. (1 Korintiërs 13:12)

As ons met ons aardse oë na die hemel kyk en dit met ons beperkte menseverstande probeer verstaan, sien ons beslis ‘’n raaiselagtige beeld’, soos Paulus dit in ons kernvers beskryf. Ons weet glad nie wat in die hemel op ons wag nie. Maar ons het ’n belofte dat ons eendag in die hemel alles sal sien soos dit werklik is en God ten volle sal ken soos Hy ons nou reeds ten volle ken.

Paulus verduidelik dit aan die gemeente in Korinte deur die beeld van ʼn spieël te gebruik. Die mense van sy tyd het nie spieëls van glas gehad wat ʼn duidelike beeld gewys het soos ons dit vandag ken nie. Hulle enigste spieëls was metaalstukke wat hulle blink gevryf het. Die vae spieëlbeeld wat hulle daarin kon sien, was omtrent soos ’n mens sal lyk as jy jou weerkaatsing in ’n dammetjie water of in ’n koperskinkbord probeer sien. Wanneer ons eendag in die hemel aanland, gaan ons ontdek dat die werklikheid veel groter en heerliker is as die prentjies daarvan wat ons vir ons probeer voorstel het. Ons beste verwagtings sal verreweg oortref word. Dán eers sal ons alles glashelder kan sien en verstaan. En die heel beste van alles: Ons sal Gód kan sien. ‘Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien,’ beloof Jesus in sy Bergrede (Matt 5:8).

Here God, dankie dat ek nou al na daardie dag mag uitsien wanneer ek alles sal verstaan wat hier op aarde vir my onduidelik was; wanneer ek U ten volle sal ken soos U my ten volle ken; en wanneer ek U van aangesig tot aangesig sal kan sien.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.