Gedagte vir die dag: Hemelkykers

twee_persone_sit_duine_sonsopkoms_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Handelinge 1:1-11

Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom .. ,” (Handelinge 1:11)

Hierdie keer is Hy regtig weg. ‘n Wolk het Hom kom haal. Hulle sou Hom nooit weer sien nie. Die mans in die wit klere het gesê Hy sal weer kom, In hul hart het hulle geweet: Eers eendag …

Maar hulle weet nie wanneer nie, Buitendien, en dit het hulle wei geweet, is daar vir hulle veel noodsaakliker dinge om te doen as om na die hemel te staan en staar. Om mee te begin het hulle mekaar om na te kyk. Hulle het ander mense na wie hulle moet omsien. Hulle het ‘n hele wêreld – waarvoor God so lief was dat Hy sy Seun gestuur het – om hulle oor te bekommer.

Bowendien het hulle Jesus se uitdruklike opdrag om uit te voer: om die wêreld vol oor Hom te praat, tot in die uithoeke daarvan. Om te vertel wat Hy hulle alles vertel en gewys en geleer het. Veral ook in daardie laaste veertig dae toe Hy in die besonder oor die koninkryk met hulle gepraat het. Hiervoor sal hulle krag ontvang, is hulle belowe. Hiervoor sal hulle gaan wag, soos hulle aangesê is om te doen.

Gelowiges, word dikwels beweer, is hemelkykers. Hul oë bly soek na ‘n “pie in the sky“. Dit is ongelukkig geen kwaadwillige skinderstorie nie, dit is die onheilige waarheid. Maar dit gee aan diesulkes ‘n alibi, dink hulle dalk, om weg te kyk van die nood rondom hulle.  Só mis hulle die Jesus wat keer op keer aan hulle verskyn en sê: Ek is honger, dors, naak, siek, in die tronk.

Verlos my van my vrome gewoontes, Here. Maak my oë oop, dat ek U kan sien.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan van Deventer ·

Baie dankie vir so al die goeie bootskappe wat ons elke dag kry om ons te inspereeer en te herinder waar ons krag en hulp vandaam kom. Mag ek asb. vra of dit moomtlik is om hierdie dagstukkies op meer eenfoudige wyse uit te le sodat dit makliker verstaanbaar is. Van ons leesers is nie altyd so vlug van begrip nie en mis dan die inpak en krag van n sterk bootskap om saam te dra vir die dag. Baie dankie weer eens julle is puik!!….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.