Gedagte vir die dag: ’n Hemelse wag  voor jou emosies

hart_klip_hand_stiltetyd.jpg

(Foto: pixabay)

Sit ’n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê. (Psalm 141:3)

Onderwysers en dosente herinner ons gedurig daaraan dat ons vir onsself moet dink. Ons hoor egter nie genoeg dat ons ook ons emosies moet oppas nie. Ons emosies gebeur baie vinniger as ons denke. So vertel neurowetenskaplikes vir ons. Teen die tyd dat ons begin dink, het ons emosies lankal ingespeel op hoe ons moet reageer in enige situasie. Daarom moet ons ons emosies gedurig monitor.

Ons moet veral ligloop vir daardie blitsvinnige stereotipes oor ander mense wat elke slag ons denke voorspring. As ons nie elke dag toelaat dat die Here se lig helder inskyn tot daar waar ons diepste emosies gehuisves word nie, gaan ons aan ons neus rondgelei word deur goor gevoelens. Negatiewe emosies gaan ons negatief beïnvloed.

Psalm 141:3 sê ons moet bid vir ’n hemelse wag voor ons mond. Maar ons moet die Here in dieselfde asem vra om daardie einste wag ook voltyds aan diens te stel voor ons emosies. Dan volg die regte denke, gewoontes en gedrag wat God sal verheerlik. Dan dink en voel ons nie wat ons wil nie. Dan triomfeer negatiewe emosies nie in ons binneste nie.

Bron: ‘n Veilige Vesting deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here laat skyn U lig op my diepste emosies…dankie dankie…vir Genade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.