Herdenk Vervolgingsondag met kerkklokke wat lui

Kerkklokke in ʼn Midde-Oosterse dorp (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Die gebeier van kerkklokke wat landswyd op presies dieselfde tyd weergalm, in verskillende dorpe  en stede … om ʼn “stem” te wees namens ons vervolgde geloofsfamilie wat so dikwels tot stilte gedwing word.

Dít is die bedieningsorganisasie Geopende Deure se droom as deel van ʼn spesiale veldtog om Vervolgingsondag op 12 Junie te herdenk, in samewerking met soveel moontlik kerke en ander Christelike organisasies. Alle Christelike kerke word uitgenooi om dié oggend om 09:00 hul kerkklokke in solidariteit met vervolgde Christene te lui.

ʼn Verbode gebruik

Vir die meeste Suid-Afrikaners is die vryheid om ons kerkklokke te laat lui ʼn voorreg wat ongemerk verbygaan. Dié gebruik is egter verbode in baie wêrelddele waarin Christen-vervolging voorkom, en kerkklokke mag nêrens gehoor word nie.

ʼn Leier van die Anglikaanse Kerk in Iran vertel dat kerkklokke in hierdie land al jare lank stil is. “Die regering laat ons nie toe om kerkdienste te hou wat met die gelui van kerkklokke gepaardgaan nie. Gevolglik mag ons glad nie enige kerke in die land se klokke lui nie en hoor jy dié pragtige geluid nêrens meer nie. Wanneer jy kerkklokke iewers hoor lui, bid asseblief vir ons.”

Dit reflekteer ʼn tendens om gevestigde Christelike kerke in Iran stil te maak. Die Iranse regering verdra slegs Christelike kerke wat nie Persiessprekend is nie, soos die Armeense Ortodokse Kerk, en die arrestasies van Christene in huiskerke styg teen ʼn kommerwekkende tempo. Hierdie Midde-Oosterse land is vanjaar negende op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys met die lande waar Christene die ergste vervolg word.

Ontstaan van vervolging

Twee Iranse Christene wat weens hul geloof vervolg word (Foto: Geopende Deure)

Die vervolging van Christene het kort ná Jesus se hemelvaart begin, toe ʼn groep van Sy volgelinge ná Pinkster in Jerusalem bymekaargekom het om saam te aanbid. Nadat die Heilige Gees oor hulle uitgestort is, het die vervolging van die vroeë kerk begin. Vandag staan die eerste Sondag ná Pinkster bekend as Vervolgingsondag.

Maniere om betrokke te raak

Geopende Deure is die stem van vervolgde gelowiges in meer as 60 lande wêreldwyd. Meer as 360 miljoen Christene ervaar hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof – ʼn styging van 20 miljoen sedert verlede jaar. Hierdie syfer verteenwoordig een uit sewe Christene wêreldwyd.

Die doel van die veldtog is dat elke kerk in Suider-Afrika op een of ander manier op 12 Junie Vervolgingsondag sal herdenk. Daar is drie praktiese maniere waarop mense betrokke kan raak en bewusmaking in hul onderskeie gemeentes kan skep:

  • Enigiemand kan as ʼn spreker by hul eie kerk optree op Vervolgingsondag. Dis die ideale manier om die boodskap van die vervolgde kerk te help versprei en ʼn stem te wees namens ons vervolgde broers en susters.
  • Nog ʼn opsie is om ʼn vrywilliger van Geopende Deure te nooi om tydens die Sondag-erediens ʼn aanbieding by jou kerk te doen. Dié organisasie se vrywilligers gaan op 12 Junie persoonlike aanbiedings by kerke reg oor die land doen om meer te deel oor ons vervolgde geloofsfamilie se opofferings en die hoë prys wat hulle dikwels moet betaal – alles omdat hulle in Jesus glo.
  • Verder is daar ook aanlyn geleenthede beskikbaar in Engels, Afrikaans en Zoeloe. ʼn Spesiale sessie wat spesifiek op kinders gemik is, gaan ook aangebied word. Die aanlyn aanbiedings gaan op Sondag, 12 Junie, van 09:00 tot 21:00 beskikbaar wees, sodat jy kan inskakel op ʼn tyd wat vir jou en jou gesin gerieflik is.

Besoek gerus Geopende Deure se webtuiste by www.opendoors.org.za vir meer inligting oor hoe om by Vervolgingsondag betrokke te raak en die dag saam met ander Christene landswyd te herdenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.