Gedagte vir die dag: Die Herder en sy skape

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: carbonchurch.com

Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My, net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape. (Johannes 10:14, 15)

Die verwysing na die herder en sy skape is een van die gesogte beelde wat in die Bybel gebruik word. Dis ʼn beeld wat aan die landbou van daardie tyd ontleen is en wat elke hoorder baie goed sou verstaan. In die Ou Testament is Psalm 23 seker die bekendste en gewildste Herderpsalm. Dis ʼn psalm wat geborgenheid en versorging uitstraal. Dit sê vir ons God is goed, Hy sien met die grootste sorg om na sy kudde.

Wanneer Jesus in Johannes 10 by die herderbeeld aansluit, brei Hy dit noemenswaardig verder uit. Die Herder word self die deur van die skaapkraal om die skape teen rowers en ondiere te beskerm. Die Herder loop vooruit en die skape ken sy stem en volg Hom. Die Herder en die skape ken mekaar soos die Seun en die Vader mekaar ken. Dit gaan oor ʼn intieme verbintenis.

Dan kom die heel belangrikste toevoeging: Die Herder lê sy lewe af vir sy skape. Meer as dit kan die Herder nie doen nie. Meer as dit kon die drie-enige God nie doen nie. Dít het Jesus vir ons gedoen.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Agnes ·

Het ons nie n wonderlike God nie? So dankbaar Here dat Jesus my Herder is , niks kan my uit Sy hand ruik nie. DIT is genade, so onverdiend

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.