Gedagte vir die dag: ’n Herder wat jou lei

woud_pad_stilte_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 23

Die Here is my herder. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. (Psalm 23:1, 3)

Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. (Psalm 23:3, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

’n Ruk gelede was daar ’n ongelooflike foto in die Landbouburger. Dit was van ’n hele trop skape wat by ’n afgrond afgespring het en op ’n nou rotslysie beland het. In die daaropvolgende reddingspoging is hierdie skape almal (behalwe sewe wat by die afgrond afgeval het) gered. Die ramp het gebeur omdat die skape almal hulle leier – wat die eerste by die afgrond afgespring het – blindelings gevolg het. Skape het die manier om mekaar halsoorkop te volg, soms met katastrofiese gevolge. Indien die skaaptrop op die foto ’n herder gehad het, sou dit nooit gebeur het nie, omdat die herder veronderstel is om sy skape op die regte pad te lei. Bybelse herders het voor hulle skape uitgeloop en seker gemaak dat hulle skape nie in gevaarsones beland het nie. Elke aand het die herder sy skaaptrop veilig in die kraal besorg.

God wil jou graag vir die res van jou lewe op veilige paaie lei, maar dan moet jy ophou om jou eie kop te volg en agter die Herder aanloop en Hom vol uit gehoorsaam. Dan sal Hy ook onderneem om jou uiteindelik by die regte eindbestemming, die hemel wat Hy vir jou gereed maak, te laat uitkom.

Here, dankie dat U voor my uitloop en my op die regte pad lei, sodat ek die gevaarlike plekke op my lewenspad kan vermy. Maak my gehoorsaam wanneer U my teen verkeerde paaie waarsku en bring my veilig by my eindbestemming. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.