Gedagte vir die dag: Here, het U my verlaat ?

Lighuis_sonsopkoms_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

 Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, was ek dom en sonder insig; soos ’n redelose dier … Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. (Psalm 73:21-24)

Wanneer ons lyding in die gesig staar roep ons maklik uit: “Here, waar is U dan, het U my vir goed verlaat?” So dikwels wanneer ons seer het, twyfel ons aan God se teenwoordigheid en selfs in sy bestaan. Ons kan egter nooit ons omstandighede as ’n liniaal gebruik om te bepaal hoe ver God van ons af is nie, want Hy is altyd by ons – of dit goed of sleg gaan, God is by ons. Baie keer wanneer ’n mens vir Christene vra hoe dit met hulle gaan antwoord hulle: “Baie goed, God is naby,” of soms: “Nie so goed nie, God is vandag ver van my.” Daar is niks verder van die waarheid nie, want God is altyd naby ons. In hierdie psalm kom die digter tot dié lewensveranderende besef. Met skaamte erken hy dat hy sonder insig was toe hy verontreg gevoel het. Hy het gedink God het hom verlaat – verbittering maak ons soms blind – maar nou besef hy God was heeltyd by hom. God het hom aan die hand gevat, raad gegee en met eer ontvang.

Moet nooit in God se teenwoordigheid twyfel nie. Jy is vir Hom kosbaar en Hy is deurentyd by jou, dit maak nie saak wat jou omstandighede is nie. Meer nog, deur sy Gees woon Hy in jou. Wat meer het ’n mens nodig as God se nabyheid? Hy is immers jou bron van krag. Nooit weer hoef jy eensaam en alleen te voel nie, God sal jou versterk, Hy is by jou en dra jou.

Miskien dink jy nou moedeloos: Liesel, waarom voel ek dan so Godverlate? Vra God om jou geestesoë oop te maak sodat jy sy teenwoordigheid kan beleef. Hy sê in sy Woord, wie Hom soek, sal Hom vind. Doen sommer nou die eenvoudige gebed.

Bly vashou aan die wonderlike belofte wat God vir ons in Hebreërs 13:5b gee: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Ek lees die ‘gesprekke’ op die vorige deel wat handel oor veroordeling. Ek kry my nou waar ek sit en wonder, tussen daardie komentaar lees ek dat reeds in die komentaar word daar veroordeel. Dalk lees ek uit konteks uit, ek is maar net mens. Maar nou met hierdie stukkie wonder ek…
Wanneer dit sleg gaan, vra ins al te vinnig: “Here, help my tog. Here, waar is U?”…
Hoe dikwels loop ons op sagte gras, sien ons mooi blomme, ‘n mooi glimlag, ‘n lekker somer son en briessie ens. maar se tog nooit, dankie Here dat U my seen met dit? Is dit nie tog dan selfsug om nie God se teenwoordigheid in alles te sien en voel nie? Ek werk 11000km weg van my huis en gesin af en dit maak dat die lewe meer dikwels as nie, baie swaar voel. Ek bevraagteken gereeld of ek die regte ding doen deur nie daar te wees om die man in my huis te wees nie. En dan voel ek ‘n briessie of sien ‘n mooi boom en dan onthou ek, God is by my en ek hoef nie te vrees nie.
So wanneer dinge swaar voel, kyk om jou na die mooi en weet dat dit, gepaart met die rol wat dit speel, is ‘n bevestiging dat God met jou is…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.