Gedagte vir die dag: Die Here is my herder

Here-is-my-Herder

Foto: Refiningtruth.com

Lees: Psalm 23

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. (Psalm 23:1)

Psalm 23 beeld ons verhouding met God uit soos die verhouding tussen ’n herder en sy skaaptrop. Dawid weet presies waarvan hy praat as hy hierdie psalm skryf, omdat hy vir jare sy pa se skape opgepas en hulle in die proses teen gevare beskerm het. Hy weet dat ’n herder soms in lewensgevaar kan verkeer omdat hy sy skape wil beskerm. Omdat hy self ’n herder was, ken hy die gedrag van skape en weet hy wat die werk van ’n herder behels. Hy weet ook dat skape glad nie sonder ’n herder kan oorleef nie, want skape kan hulleself nie versorg nie; hulle het iemand nodig wat hulle van water en kos moet voorsien.

En dit is dan ook wat God vir sy “skape” beloof. In hierdie psalm praat Dawid egter nie as ’n herder nie, maar as ’n skaap wat die versorging van sy hemelse Herder beleef. Jare later, toe hy koning van Israel geword het, kon hy die opdrag in 2 Samuel 5:2 goed verstaan: “Die Here het vir u gesê: Jy moet vir my volk Israel ’n herder wees.” Dit is heel waarskynlik die rede waarom Dawid so ’n goeie koning was; ten spyte van sy menslike foute was hy ’n man na God se hart omdat hy aan God getrou gebly en sy volk versorg het.

In die Nuwe Testament word Jesus die Goeie Herder genoem. Hy was selfs bereid om sy lewe vir sy skape af te lê; om in jou plek te sterf, sodat jy niks sal kortkom nie.

Here Jesus, ek loof U dat U dit vir my moontlik maak om by God uit te kom omdat U bereid was om u lewe vir my prys te gee. Dankie dat U sorg dat ek niks kortkom nie. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.