Gedagte vir die dag: Here, skeel dit U niks?

Storm_weer_see_rotse_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jesus het agter in die boot gelê en slaap met sy kop op ’n kussing. Sy dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Leermeester, skeel dit U niks dat ons besig is om te vergaan nie?” Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?” (Markus 4:38, 40)

Jesus het siekes genees en demone uitgedryf. Sy dissipels het hulle verwonder oor die feit dat hulle Meester oor bonatuurlike mag beskik. Daarmee is Jesus se Goddelike natuur bewys. Maar het Hy dit altyd en oral gedoen? Was dit sy hoofdoel op aarde?

Op ʼn dag was Jesus saam met sy dissipels op die oop see. Hy was moeg en het op die boot se agterdek aan die slaap geraak. ʼn Storm het uitgebreek. Reuse deinings het die boot laat styg en val. Die dissipels het vir hulle lewens gevrees. En Jesus? Hy het skynbaar rustig geslaap!

Dis toe dat die dissipels Hom wakker geskud het met dié vraag: “Gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

Hoe durf God slaap as ons besig is om te vergaan?! Ek hoor in hierdie woorde ʼn refrein van talle psalmskrywers. Ek hoor dit in die versugtinge van mense oor eeue heen. Jesus se kalm antwoord: “Vertrou julle My nog steeds nie?” Vertroue? Om te glo dat ons God nooit regtig slaap nie. Vertrou Hom met jou lewenstorms.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maggie ·

Amen. Ons vergeet so gou dat God in beheer is en altyd daar is vir ons.

Genieve ·

Hy het belowe Hy sal ons nooit begewe of verlaat nie..Amen!!

Michelle ·

Ek het dit persoonlik beleef die afgelope 3 maande dat die Here regtig nie slaap nie maar dat Hy daar was toe ek deur die storms gaan. Amen

Sus ·

Al beleef ek nie tans n storm in my lewe nie, dankie Liewe Vader dat U my aan U getrouheid herinner.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.