Gedagte vir die dag: Herinneringe

Fotos-2_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen. (Spreuke 4:23)

Herinneringe is die innerlike foto’s wat jy kies om saam met jou die toekoms in te neem en in jou hart te bewaar. Party foto’s wat ons koester, is mooi. Dit vertel van goeie tye met goeie vriende en dierbare familie. Dit getuig van oorwinnings en seën. Ander is minder mooi en vertroebel jou gemoed wanneer jy daaraan dink. Die grys in-betweens stoor ons om die een of ander rede nie in ons harte nie.

Maak seker watter herinneringe jy kies om te vergroot, te raam en in jou hart se stoorkamer op te hang. Laat dit jou innerlik bruis? Of het dit die uitwerking van geestelike arseen?

Ek het baie jare lank swaar aan donker herinneringe in my hart gedra. Vandag, deur die Here se genade, raak ek vinnig ontslae van emosionele rommel wat my wil vergiftig. Ek het geleer ’n lewensalbum met vergrotings van negatiewe foto’s is nie nuttig op my lewenspad nie. Dit dien nie ’n goeie doel nie. Dit beroof my van my sprankel.

Vandag is die herinneringe wat ek in my hart saamdra baie ligter as ’n paar jaar gelede. Die woede, bitterheid en pyn is vervang deur die Here se genade, liefde en deernis.

Bekyk ’n slag jou hart se inhoud goed. Maak seker die herinneringe wat jy gereeld uithaal en na kyk, is bruistablette vir jou gees – en nie gifpille wat jou pad na ’n mooi toekoms sal versper nie.

Want dit wat jy in jou hart saamneem, bepaal jou belewenis van jou reis.

Help my, Here, om die mooi herinneringe te vergroot en te raam en die res te laat gaan.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.