Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie en sondaars nie ’n plek hê in die vergadering van regverdiges nie. (Psalm 1:5)
Elke mens soek ’n plek waar hy tuis kan voel – waar hy kan ontspan, homself kan wees. Die vraag is: Waar is jou plek – waar is jy gemaklik? Die digter skryf dat goddeloses tuis voel waar God ver is: in die kring van sondaars. In die vergadering van die regverdiges voel hulle ontuis, ongemaklik en gespanne. Van God se teenwoordigheid wil hulle eerder wegvlug – sy heiligheid is vir hulle te veel.
Dis ongelukkig wel ’n waarheid dat sommige gelowiges so veroordelend is dat min mense gemaklik by hulle voel. Sommige ongelowiges is, wat liefde en genade betref, inderdaad beter “Christene” as sommige gelowiges. Kom ons vergeet egter eers van sulke gelowiges. Oor die algemeen is ons wel tuis in geselskap wat oor die Here gaan. Natuurlik! Ten diepste voel ons egter tuis by die Vader. Ons is nie bang vir ons hemelse Pa nie. Hy veroordeel ons nie. Hy is lief vir ons – en ons vir Hom. God is jou hartsplek.
Abba Vader, U is my rusvind en my tuiskoms. Ek is tuis in die huis van my Pa. Amen.