Gedagte vir die dag: Hoe groot is God?

Namakwaland_wit-blomme_stiltetyd.jpg

Foto: Eugene Lottering

Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet. (1 Korintiërs 2:9)

Hoe groot is God? Die antwoord is heel eenvoudig: God is so groot soos wat jy Hom toelaat om te wees in jou lewe!

Op 17 November 1989 het ek ’n visioen van God gehad in my studeerkamer op die plaas. Ek het God duidelik met my hoor praat. Ek het Hom nie gesien nie, maar God het deur sy Woord in my hart gespreek. Ek het Power Evangelism gelees deur John Wimber. Agter in die boek was daar kort staaltjies oor manne en vroue van God wat kragtig deur God gebruik is om ’n impak te hê op die hele wêreld. Dit was asof die Heilige Gees vir my gewys het dat daar ’n goue draad deur elkeen van hulle lewens geloop het. In een woord: geloof!

Dit was asof die Here gesê het: “Angus, as jy genoeg geloof het om My te vertrou, sal Ek sale vol maak. Ek sal stadions en vergaderplekke in die buitelug vul soos jy nie kan glo nie. Maar net as jy in My glo.” Ek was so opgewonde. Ek het my foon opgetel en my leraar in Greytown gebel en vir hom gesê: “Gavin, God het vir my gewys as ek dit waag om in Hom te glo, sal Hy my gebruik.” Op daardie dag het Gavin iets gedoen wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie. Hy het teen sy muur geskryf: “17/11/89 – Angus.” En dit was die begin!

Ek vra jou vandag: Vertrou jy op God, of vertrou jy op jouself? Hoekom vertrou jy nie dat God jou treë rig nie? Leef jou droom. Doen daardie ding wat jy te bang is om te doen. Plaas jou vertroue in Hom, en Hy sal jou verstom.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.