Gedagte vir die dag: Hoe groot is U!

 Heelal_Aurora-Borealis_Stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? (Psalm 8:4-5)

Dawid kyk op na die donker hemelruim en sien die maan, die sterre en die melkweg. Hy is oorbluf oor die grootsheid daarvan – en hy het nie eens naastenby besef hoe groot dit werklik is nie! Oral om hom beleef hy die wonder van die natuur: die trek van die voëls, die wonder van ’n volmaakte geboorte, die sirkel van die lewe … Hy wonder dan: Wat beteken hierdie wonderlike skepping? Wat sê dit? Waar pas ek in? Dawid besef dat die skepping een groot simfonie is. Alle skepsele sing saam – deur hulle blote bestaan en deur hul skeppingsdoel ten volle uit te leef.

Die feit dat ons die skeppingslied nie hoor nie, is bloot ons eie skuld – ons is so selfgesentreerd en besig met ons eie dinge dat ons die gebulder van die heelal heeltemal mis! Wat moet ons doen? Ons moet die simfonie hoor deur daarvoor op te let – en dan moet ons ons stem, ons eie klein stemmetjie, tot hierdie reuse koor byvoeg. Dan sal ons die  wonderlikste harmonie beleef!

Ek sal sing, Skepper – ek sal juig! Alles wat U gemaak het, is pragtig. Amen.

Bron:
Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Von ·

Dankie genadige God dat ek deel kan wees van U Grootste werke…..Amen

Roos ·

Baie treffend. Ons ou spikkeltjies op die aarde in die grote heelal, wat tog so begaan is oor nietighede.
“Die gebulder van die heelal….. “

Sophia ·

Wow, so pragtig en treffend!
O my God, gee dat ek meer sensitief sal raak vir U wonderlike skepping, en een sal raak met DIT waarvoor U my op hierdie aarde geplaas het?!

Marie Visser ·

Maroela Media, ek wonder of die ‘Gedagte vir die Dag’ dagstukkies in boekvorm te kry is? Indien nog nie, sal baie mense, ek inkluis, so dankbaar wees indien julle daaraan sal dink om so ‘n boekdrukprojek aan te pak – sal ‘n finansiële bydrae vir jul koerant oplewer. Baie dankie by voorbaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.