“God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.” (2 Timoteus 1:7)
Seker een van my gunsteling-aanhalings deur Friedrich Nietzsche: “Beware that, when fighting monsters, you yourself do not become a monster… for when you gaze long into the abyss, the abyss gazes also into you.”
Hoeveel maal het jy al jouself daar bevind tydens ’n konfliksituasie. Waar jy terugkyk na die woordewisseling en voel asof jy presies geraak het, dit wat jy verag het in die ander persoon se karakter. Selfvertroue is belangrik, dit is daardie krag om op te staan vir wat jy weet reg is. Selfvertroue is nie arrogansie nie, en nodig wanneer jy toetree tot ’n argument. Dit is egter belangrik om te onthou dat ware selfvertroue ook liefde en selfbeheersing is. Die Woord sê, raak kwaad, maar moenie sondig nie. Dit kan ons alleenlik regkry deur die Heilige Gees wat in en deur ons werk.
So mag ons kwaad raak? Ja.
Mag ons eerlik wees? Ja.
Maar net soos daar ’n verskil is tussen selfvertroue en arrogansie, is daar ook ’n verskil tussen reguit wees en onbeskof wees. Om eerlik te wees beteken om openhartig te wees met hoe jy voel en wat jy dink. Respek is om dit op ’n bedagsame wyse, in liefde en met wysheid oor te dra.
Moenie in die proses van konfrontasie die duiwel ’n vatkans gee in jou hart nie. Bemeester konfrontasie deur met selfvertroue, sterk en in wysheid tot die gesprek toe te tree. Voer die argument op grond van feite, in liefde, met selfbeheersing, respek en bedagsaamheid. Dit is ware krag. Dit is ware outoriteit.
Here in my eie krag is ek tot niks goeds instaat nie…..dankie vir genade..Amen
Dankie vir die pitkos
Nee wat, ek het vroeg al geleer om net niks te sê nie.