Gedagte vir die dag: Hoe kyk jy?

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie … Omdat ons glo, weet ons … die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. (Hebreërs 11:1, 3)

Vandag wil ek vir jou vra: Hoe sien jy jouself en hoe kyk jy na die wêreld om jou en na die lewe? Amerikaanse statistieke wys dat die meeste vroue nie van hulleself hou nie, hulle voel hulle voldoen nie aan die standaarde van die wêreld nie en is onbekwaam. Hulle het soveel rolle om te vervul en voel gedurig skuldig omdat hulle nie altyd by alles uitkom nie.

Het jy geweet dat geloof is om met God se bril na jouself en die wêreld te kyk? Dis God se bril van liefde, vergewingsgesindheid, hoop, ’n wonderlike toekomsverwagting, ’n ewige lewe en nog baie meer. Dietrich Bonhoeffer skryf: “Die heel belangrikste taak wat daar vir Christenmense kan wees, is om die hele werklikheid, die samelewing, die skepping, die naaste, alles, voortdurend te bly sien in die lig van Christus … miskien selfs soos Christus; met die oë van Christus.” Dirkie Smit stel dit so: “Geloof is die vermoë om anders te sien. Om onsself te sien en te beoordeel soos God ons sien.”

Ek wil jou uitdaag om van vandag af met God se bril na jouself en die lewe te kyk – Hy sien jou as sy geliefde kind en Hy het jou oneindig lief en hou die wêreld en toekoms in sy hand. Geloof is om anders na jouself en die wêreld om jou te kyk. Dit is om soos ’n ontwikkelaar na ’n stuk grond te kyk – hy sien klaar hoe die ontwikkeling daar gaan lyk. Of om soos ’n besigheidsman na ’n mislukte besigheid te kyk, hy sien reeds hoe hy die besigheid na ’n sukses omdraai.

Geloof is om met God se bril van hoop te kyk. Sien jy God in jou toekoms raak? Sien jy met verwagting uit na wat Hy vir jou gaan doen en glo jy die beste lê nog voor? Glo jy God wil iets nuuts in jou lewe doen en dat dit op die punt staan om te gebeur?

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lena Jonk ·

As ons om ons kyk kan ons nie een oomblik twyfel om uit te roep HOE GROOT IS ONS GOD nie alles so volmaak geskep.

Elize ·

Ek het vir nuwe werk aansoek gedoen en ek glo die Here gaan iets nuut doen Hy ken my hart en omstandighede ek sal bly glo dankie

MADISON ·

My man probeer baie hard om ‘n sukses te maak van sy werk maar deure bly toegaan vir hom. Ons hou egter nooit op glo nie want God ken ons omstandighede ook en Hy sal deure op die regte tyd oopmaak maar intussen sorg Hy vir ons in die moeilike tye. God ons smeek dat U ons ryklik sal seen vandag en altyd. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.