Gedagte vir die dag: Hoe leër, hoe sagter

see_rotse_kaap_stiltetyd.jpg

Foto: Suné van Heerden

Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee. (Handelinge 4:33)

Word jy soms moedeloos met jou eie ongeduld? Jou vinnigop-jou-perdjie-wees? Jou gou-om-ander-te-oordeel-ingesteldheid? Ek is dikwels vies-teleurgesteld in myself wanneer ek besef dat ek al wéér nie my Here se sagte hart teenoor ander uit geleef het nie. Wanneer ek dan daaroor nadink, onthou ek dat ek nie vanoggend myself aan die Gees oorgegee het nie omdat ek te haastig was om aan die werk te kom. En dan … maak ek so droog!

Geen mens kan met ’n sagte hart leef wanneer hy vol van homself is nie. Want “self” is nooit sag teenoor ander nie. “Self” sien net myself raak, dien net my eie belange, wil net die beste vir mý hê. En hoe meer “self” daar in my is, hoe minder plek is daar vir die Gees. Hoe minder kan Hy in my werk, deur my werk, my help om regtig vir ander te werk. Daarteenoor is meer Hý altyd meer genadig. Sagter. Mooier.

Die Woord en die Gees is by uitstek daar om ons te leer om onsself prys te gee sodat ons eintlik meer wen. Meer van sy grootheid kan word. Meer liefde kan wees. Kom ons vergeet nooit om “ek”-dolleeg en Hý-propvol te word nie.

Ek wil vandag u sagtheid aan die wêreld gaan demonstreer. U genade gaan leef. U soort vrede vir ander wéés.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.