Gedagte vir die dag: Hoe lief het jy Hom?

Jesus_kleed_stiltetyd.jpg

Foto: freebibleimages.org

Toe die Fariseër wat Jesus genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ’n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ’n sondares. (Lukas 7:39)

“My kom die wraak toe,” sê die Here (Romeine 12:19). Voordat ons daarna kan kyk om ander te vergewe, of om God toe te laat om die Een te wees wat oordeel, is dit nodig dat ons verstaan hoeveel keer ons self vergewe is. Dis maklik om op ander en hulle verkeerde dinge te fokus. Aan die ander kant hou ons nie daarvan om ons eie tekortkominge van naderby te beskou nie.

Simon, die Fariseër, het Jesus genooi om by hom aan huis te kom eet. Hy was nie gelukkig toe die vrou inkom en hulle maaltyd onderbreek nie, en hy het vinnig haar tekortkominge uitgewys. Hy het daar gesit en haar in sy hart veroordeel. Hy het aanstoot geneem omdat sy die vermetelheid gehad het om sy huis binne te kom. Dink jy hy was dalk bekommerd dat haar teenwoordigheid hom in die skande sou steek? Jesus het presies geweet wat deur sy gedagtes gaan, en het vir hom gesê: “’n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?” (vers 41-42). Is dit nie so tipies van Jesus om reg tot die kern van die saak deur te dring nie? Mens kan aanvoel hoe teësinnig Simon moes erken: “Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het” (vers 43). Is jy soos die vrou of is jy soos Simon, die Fariseër?

Dikwels is ons eiegeregtig en veroordelend. Ons vergeet dat ons nooit in God se teenwoordigheid sou kon staan as dit nie was vir die bloed van Jesus waardeur ons verlos is nie. Ons is skoon gewas en ons sondes is vergewe. Jy ken Romeine 3:10: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.” Vertel jou Vader vandag hoe lief jy Hom het.

My Vader, ek nader vandag tot U en ek buig voor U. Ek dank U dat ek dit slegs kan doen omdat U my as sondaar deur u genade gered het. Ek dank U, Jesus, vir u dood aan die kruis. Ek is so dankbaar teenoor U, my Here. Ek het U lief en ek aanbid U. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.