Gedagte vir die dag: Hoe lyk God?

wolke_see_sonondergang_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Lees 1 Johannes 4:11-16

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons (1 Johannes 4:12)

Jesus het op ’n keer aan sy dissipel Filippus gesê:  “Wie My sien, sien die Vader” (Johannes 14:9).  Van hier kom onder meer ook gelowiges se trsoostende sêding onder mekaar:  Jesus het God se gesig vir ons kom wys.

Dit was vir die dissipels sekerlik ’n enorme troos, dit is nou nadat hulle eers hul verbystering oorkom het.  Vir mense wat as Jode grootgeword het, Ou-Testamentiese gelowiges, was dit immers ononderhandelbaar:  Niemand het God nog ooit gesien nie. Jy kan nie God sien en bly leef nie (vgl. Eksodus 33:20).  In die Nuwe Testament sou ’n Evangelieskrywer dit alles bevestig het (vgl. Johannes 1:18).

Maar vir ons, post-Nuwe Testament, is dit ’n uitgemaakte saak, maklik om te glo:  Jesus en die Vader is één.  Wat Jesus doen, is wat die Vader doen. God se wil is om Jesus ontwil.  Daarop sê ons amen, hartlik en dankbaar.

Maar ons, die hedendaagse gelowiges, het egter dié agterstand:  Ons het ook nie vir Jesus gesien nie.  Die Kinderbybelprentjies is, wel, vir kinders.  Ons vra steeds, want ons het geen idee nie:  Hoe lyk God?

In hierdie klein liefdesbrief waaruit ons lees, stel Johannes die volgende voor:  Kyk goed na haar (na hom, na hulle) wat jou lief het. In hulle sien jy vir God. En, omgekeer:  Wanneer hulle wat jy lief het na jou kyk, sien hulle vir God.

Goeie genade, kan dit wees! Sonder twyfel, sê Johannes.  Ons het sy Gees ontvang en Hy is in God-in-ons. Ek, ék, is God se gesig, waar ek ook al gaan.

Ag, Here, U kon mos ‘’n ander, beter keuse gedoen het as ék!  U het toe nié …

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.