So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is. (Matteus 6:9)
Hierdie gebed begin by die “Ons Vader”. Maar dan begin ons die grootsheid van die Vader verstaan en verval in opregte bewondering. Daar is net ’n paar treetjies tussen bewonderende aanbidding en ’n brandende sendinggees: “Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied.”
Dan volg ’n belydenis van afhanklikheid van God: “Gee ons vandag.” Onder leiding van die Gees besef jy jy is sondig en jy smeek dus om genade: “Vergewe ons.” Dan, wetende dat God jou aanvaar, vra jy vir krag. En uiteindelik is daar triomfantlike lof: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.”
Sy genade is groot!