Hoe om voor te berei vir die tronk

Verteenwoordigende foto’s en name weens sekuriteitsredes.
Foto: © Geopende Deure Internasionaal 2017

“Lily!” roep haar ma. “Ek wil met jou praat oor wat met my en pappa gaan gebeur,” het Ava* gesê terwyl sy soekend in haar dogter se oë gekyk het of sy verstaan. Hoewel Lily nog in die laerskool was, het Ava geweet dat sy hulle dogter moes begin voorberei op wat vir hulle voorgelê het. “Die dag gaan kom wat hulle ons deurklokkie gaan lui en my en pappa tronk toe gaan vat,” het Ava verduidelik.

“Moenie bekommerd wees wanneer hulle kom nie. Die Bybel leer ons dat dit normaal is vir Christene om vervolg te word. Hulle sal ons tronk toe vat, ʼn paar vrae vra en ons slaan. Daarna sal ons weer terugkom.”

Dit was ʼn paar jaar later, maar daardie dag het aangebreek. Terwyl Lily (12) by die skool was, het die owerhede by die gesin se huis opgedaag en Ava en haar man in hegtenis geneem. Die egpaar is weke lank aangehou, geïntimideer en daagliks ondervra, voordat hulle uiteindelik vrygelaat is.

Hierdie Irannese gesin se getuienis is nie uniek nie, maar ʼn realiteit waarmee miljoene Christene reg oor die wêreld daagliks moet saamleef. Hulle leef konstant onder dreigende vervolging vir hulle geloof – intimidasie, isolasie, aanranding, gevangenskap en selfs die dood – tog kies hulle steeds om Jesus te volg.

Die wete dat ons broers en susters in Christus bereid is om te ly vir hulle geloof, is ʼn ontnugterende wete. Dit is ook ʼn vreemde konsep vir baie van ons. Vervolging? Gebeur dit sowaar vandag nog? Die eenvoudige antwoord is: ja.

Alhoewel die intensiteit van Christelike vervolging wêreldwyd toegeneem het in die laaste paar dekades, is vervolging nie nuut nie. Vervolging bestaan vir solank as wat die kerk bestaan. Om die waarheid te sê, Jesus het vir sy volgelinge gesê om dit te verwag, soos Ava ook aan Lily probeer verduidelik het, “As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg,” (sien Johannes 15:20).

Ons hoef dus nie iets te doen om vervolging te beëindig nie, want die Here gebruik dit ten goede en dit is wat Hy gesê het sou gebeur. Máár ons moet wel ons medegelowiges onderskraag omdat ons deel is van een en dieselfde Liggaam van Christus (1 Korinthiërs 12). Ons moet help om hulle toe te rus, te versterk en vir hulle te bid, sodat hulle die Groot Kommissie kan uitleef op die frontlinies van die geloof.

Vir die afgelope 62 jaar dien Geopende Deure miljoene vervolgde Christene in meer as 50 lande, in samewerking met plaaslike kerke en vennote, deur middel van gebedsondersteuning, die voorsiening van Bybels, Christelike materiaal, dissipelskap, lewensbestaansopleiding – en op verskeie ander maniere.

Jy kan Geopende Deure help! Besoek www.opendoors.org.za om uit te vind hoe jy die vervolgde Kerk kan ondersteun. om gereeld nuus vanuit die vervolgde Kerk te ontvang. Besoek hul Facebook-blad, Twitter, YouTube en Instagram

*Verteenwoordigende foto’s en name weens sekuriteitsredes.

 

Verteenwoordigende foto’s en name weens sekuriteitsredes.
Foto: © Geopende Deure Internasionaal 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.