Gedagte vir die dag: Hoe ryk is ons

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. (Matteus 6:19)

Op ’n dag het my seun my nogal tot stilstand geroep met die woorde: “Mamma, Mamma wérk net! Selfs wanneer Mamma by ons is, is Mamma se kop by die werk.” Dit was seer maar baie nodige woorde. Dit het my net weer laat besef dat ’n mens so gefokus kan raak op die dinge wat ons moet doen en wil bereik dat ons maklik mense se harte kan afskeep. Meer nog: dat ons brandarm kan word in ons verhouding met ons Vader. En onsself.

Dalk wil jy ook vandag net weer die Gees vra om jou weer ryk te maak in jou kontak met ander:

Ek’s bankrot, Gees van God! Bankrot in my liefde vir U. Ek ken U nie meer nie, praat nie meer met U nie. Eintlik is ek skaam vir U. Ek’s ménsbankrot in my selfgesentreerde paleis. Ek besef vandag dat geen aardse besittings, status of mag die plek van kosbare verhoudinge kan inneem nie.

Sal U my stroop van my eie ego en my vul met u Gees van liefde? Want as u liefde my rig, sál my hart weer ander harte regtig hóór. En sal ek weer ryk word. Ryk in U. In liefde.

Onthou vandag Paulus se brief aan die Filippense: “Hoofsaak is dat julle leefstyl moet pas by die Goeie Nuus” (Filippense 1:27).

Vader, ek wil regtig die liefde lééf.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

neelsie ·

Materialisme verdryf die” vrug van die Gees”(Gal 5;22)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.