Gedagte vir die dag: Hoe sien jy ander?

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Wees ’n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde. (1 Timoteus 4:12b)

Wat is jou maatstaf wanneer jy mense in kategorieë van goed of sleg en belangrik of onbelangrik plaas? Dink mooi. Beoordeel jy nie ook maar mense op grond van wat hulle doen, waar hulle bly en hoe groot motor hulle ry nie? En sien ons nie maar neer op dié wat nie soos ons lyk, is en optree nie?

Wanneer ons lees hoe ons Here sy skoene uitgeskop het by arm mense, hoe Hy vriende gemaak het met sogenaamde lae klasse, hoe Hy by “sondaars” tuisgegaan het en hoe Hy tussen gewone mense geleef het, besef ’n mens maar net weer hoe skeef ons eie beoordeling van mense kan wees. Hoe maklik ons ander kan plaas op grond van hoe hulle van buite lyk. En dan kan ’n mens maar net weer van voor af vra dat die Gees ons vooroordeel-harte sal suiwer, ons skewe maatstawwe sal afbreek en aan ons harte sal gee wat vanuit sy oë na mense kyk. Wat ander omhels met onvoorwaardelike liefde … vir dit wat hulle inherent is … dit wat Hy hulle gemaak het.

Kom ons gaan die dag in met die voorneme om mense te sien soos God hulle sien: Mense wat almal sondig is, maar almal ook gered kan wees … nie op grond van wat hulle doen nie, maar wie hulle deur Hom kan wees.

Vader, gee my u soort oë. U soort liefde.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.