Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal. Ons moenie te veel van onsself dink, mekaar irriteer of op mekaar jaloers wees nie. (Galasiërs 5:25-26)
’n Kat en ’n rot beland in ’n storm saam op ’n stuk dryfhout wat stroomaf dryf. Twee aartsvyande het nou ’n gemeenskaplike “vyand”! Hulle weet hulle moet oorleef in die vinnig vloeiende rivier en klou albei druipnat en bedremmeld verbete aan die dryfhout vas. Dit lyk amper asof daar ’n moontlikheid is dat hulle vriende kan raak. Maar hierdie nuwe manier van na mekaar kyk, is van korte duur. Toe die dryfhout teen die wal beland en albei afspring en weghardloop, sit die kat die rot onmiddellik agterna net om binne ’n paar sekondes korte mette van die rot te maak.
Ons is almal geneig om – wanneer ons ’n gemeenskaplike stryd het – met groter empatie, vergifnis, nederigheid en liefde na mekaar te kyk. En dan, wanneer die krisis oor is? Dan verloor ons weer ons sagte oë vir mekaar.
Die Heilige Gees vind so selde ware deernis en konstante nederigheid in ons dat Hy spesiaal in sy Woord geskryf het dat ons tog nie verwaand moet wees nie.
Gees van Waarheid, vergewe my my selfsug, verwaandheid en eie-belang-menswees.
AMEN