Gedagte vir die dag: Hoe weet ek iemand ken God?

Olyfbome_Assisi.jpg

Foto: Annelize Brits

Hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam. As iemand sê: “Ek leef in ’n persoonlike verhouding met God,” maar nie sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ’n persoon ’n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie. (1 Johannes 2:3-4)

Is dit nie vir jou verstommend hoe volop hierdie Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament is nie! Wanneer Johannes van die gebooie van God praat, praat hy nie van die Tien Gebooie of die wet nie. Johannes praat hoofsaaklik van twee dinge.

Die eerste het te doen met God se openbaring en opdrag op die berg van verheerliking waar hy by was. Daar het God, in die teenwoordigheid van die wet (Moses) en die profete (Elia), die aandag op Jesus gevestig en gesê: “Hý is my geliefde Seun. Hy is ’n Kind so na my hart. Doen wat Hy vir julle sê” (Matt 17:5). Dit was die allesomvattende opdrag (of gebod) van God. Uit hierdie openbaring en opdrag vloei alles wat God sê en gee. Die tweede het te doen met Jesus se woorde in Johannes 13:34-35 toe Jesus sê: “Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.”

Hierdie twee dinge is ook die oorwegende tema van Johannes se sendbrief. Kennis van God is gekoppel aan gehoorsaamheid aan God. Om aanspraak op ’n verhouding met God te maak sonder gehoorsaamheid aan die openbaring en opdragte van die Seun is ’n valse aanspraak. Dissipels word hieraan uitgeken. Dit is nie hul kerkaffiliasie wat die deurslag gee nie, maar hul onderdanigheid aan God.

Vader, help my om U te ken!

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.