Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra. (Fil 2:15-16)
Hier is ’n eenvoudige vraag: Wil jy gewoon wees of wil jy buitengewoon wees? Ek dink ons almal sê “buitengewoon”. Buitengewone huwelik, buitengewone pa vir my kinders, buitengewone ma, buitengewone werker, buitengewone Christen. Ek wil dit doen, ek wil dit leef. Maar hoe leef ons dit? Hoe word ek en jy buitengewoon?
Nie net is dit ’n keuse om buitengewoon te leef nie, dit is ook ’n Bybelse opdrag. Hoe kan mense sien ons leef buitengewoon? Hulle moet kan sien ons is ligdraers in die wêreld wat die woord van die lewe uitdra.
Wil jy buitengewoon leef? Ek wil. Wil jy die Here dien? Ek wil beslis. Wil jy die volk draai? Ek wil die volk draai en ek wil sien hoe Suid-Afrika weer die Here dien. Hoe gaan ons dit regkry? Deur naby aan die Here te leef en altyd net te doen wat Hy van ons vra, of dit nou maklik of moeilik gaan wees.