Gedagte vir die dag: My God, hoekom het U My verlaat?

Donker_vallei_woud_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit was toe dat Jesus baie hard uitgeskreeu het: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” As ’n mens dit vertaal, beteken dit: “My God, my God, hoekom het U My verlaat?” (Markus 15:34)

Met hierdie kruiswoord haal Jesus letterlik aan uit Psalm 22. Waarskynlik was die hele psalm met sy donker ondertoon in Jesus se gedagtes, veral vers 8 en 9.

“My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: ‘Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry as Hy dan so baie van hom hou’” (Psalm 22:2, 8, 9, Bybel in Afrikaans 1983/1992).

Die verskil tussen Jesus se ervaring en dié van die psalmdigter was dat Jesus werklik Godverlate was. Ons kan ons dit nie vir een oomblik indink nie. Soms voel dit vir ʼn mens asof God sy rug op jou gedraai het, maar Hy is áltyd by jou. Die Godverlatenheid wat Jesus ervaar het, was niks minder as ʼn Godlose duisternis nie. Want dié duisternis was nodig sodat daar vir ʼn donker wêreld lig kon deurbreek, die lig van verlossing, die lig van Goddelike genade.

Jesus was Godverlate sodat elkeen wat in Hom glo nooit, maar nooit Godverlate sou wees nie.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Freddie ·

Dankie Here dat U ons nooit laat gaan nie. Al voel ek leeg weet ek daar is niks wat U kan vervang nie. En al voel ek nie altyd naby U nie weet ek dat die gevoelens nie altyd ooreenstem met die waarheid nie. Ag, Here, wees asseblief naby my dat ek nie iets nutteloos soek wat ‘n wig wil dring tussen my en U nie. Vat weg die skuldgevoellens saam met die eiewysheid. Hou my seer lyf in U hande hierdie week wat kom. Ek bid uit genade. Amen.

Lukie ·

Hi Freddie. Jou kommentaar verwoord presies hoe ek voel. Dankie dat jy dit gedeel het en ek weet jy en almal wat so voel sal deur God besoek word. Sy wee is nie ons wee nie maar Hy het belowe Hy sal ons nooit begewe of verlaat nie! Sterkte!

ElgeraineR ·

Dis vir my een van die kosbaarste verhale in die Bybel, Jesus se Kruisiging.
Dit laat my elke keer sonder woorde, ek kan net se dankie Jesus?

Johan ·

Ons het vanoggend dieselfde boodskap in ons kerk gehoor, maar ek het iets nuut geleer vandag.. Psalm 22 verwys beslis na Jesus se kruisiging. Vers 24 in die ESV weergawe is so vertaal : “For He has not despised or abhorred the affliction of the afflicted, and He has not hidden His face from Him but has heard, when He cried to Him.”
Die Afrikaanse vertaling is effens anders, maar uit die ESV vertaling is dit duidelik dat God nooit vir Jesus verlaat het of weggedraai het van Hom nie. Sonde bring skeiding tussen God en mens, maar God is altyd met ons, maak nie saak hoe baie ons sondig nie. As ons egter sondig, ervaar ons die skeiding, dit voel of God ver is en sy rug gedraai het op ons. Agv ons sonde op Jesus, het Hy juis daardie skeiding ervaar, maar die werklikheid was dat God steeds met Hom was en sy geroep gehoor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.