Gedagte vir die dag: Hoekom my geldjies net wegsypel …    

rots_waterval_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. (Jeremia 2:13)

Hierdie waterbakke is “cisterns” in Engels en was ’n mensgemaakte reservoir wat uit rots gekap is om water op te vang en te berg. Dit was baie belangrik in Israel deur die lang seisoene van droogte in ’n land met relatief min natuurlike fonteine.

Wat ons bring by my, jou en Suid-Afrika. Die Christendom praat maklik van hoe ons al lankal nie net fisiese maar ook geestelike droogte ervaar in ons land. En tog, so maklik as wat dit is om te kyk na al die skandes en ons koppies ewe geskok te skud, is ek nie so danig oortuig dat ons veel beter af is nie.

Hoe so? Wel, as ek nou blatant eerlik moet vra: Voel my water bakke standhoudend of sit ek ook maar met te min? Kry ek nie ook die gevoel dat dit nie saak maak hoe hard ek werk nie, ek kry nie al die gaatjies toegestop nie? My inkomste sypel eenvoudig uit my waterbak uit weg …

Om geestelik nie eers te praat nie! Hoeveel van ons is geesfonteine? Die tipe wat oorgenoeg vars water het om te gee? Of spoeg ons maar net dieselfde brak water uit wat almal om ons spuit? ’n Inspirerende aanhaling, ’n bekende se dagstukkie, die leraar se mooi preek … want ek self het niks nuuts uit God se hart gehoor nie, en ek weet dit. So wat nou?

Nou gaan ons terug bron toe! Vergeet van ander mense en hulle foute, draai self terug met alle mag. Lees jou Bybel. Maak tyd om alleen by God te wees. Vind weer hoop, rigting en betekenis by die bron van lewe in plaas van by die bron van dood.

Here, help my asseblief om weer terug te kom by die Bron. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OWO ·

Hoekom hou die mense se waterbakke nie water nie?Laaste paragraaf;Omdat ons vergeet van ander mense en hulle foute.Lees maar Titus 2 en veral vers 15.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.