Gedagte vir die dag: Hoogmoed en nederigheid

man_pad_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

Lees Lukas 14:1, 7-14

“Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word”. (Lukas 14:11)

Hierdie Jesuswoorde het lankal ’n allemansêding geword. En dan gewoonlik met ’n heimlike wens daarby. Iets soos: “Jy hou jou verniet so opstêrs; hoogmoed kom tot ’n val!” Of dit verskaf ’n lekkerkry-gevoel omdat dit reeds gebeur het. “Ja-nee,” kan ons dan byvoeg, “hier staan dit in die Bybel!”

Ons almal sê of dink dit, smaal daaroor, maklik-maklik, want ons is net mense. Wat almal al onder ander mense se hovaardigheid deurgeloop het.

Dit is wel die tweede deel van Jesus se uitspraak wat ons dalk twee keer laat dink. Dié een oor nederigheid. As ons eerlik is met onsself, sal ons erken dat ons nie juis uitblinkers daarin is nie. Jesus se vertelling oor hoe mense graag voor in die koor wil wees, bitter graag raakgesien wil word, gereken wil wees, is ’n voltreffer.

Dit slaan ons op die kinnebak. Ja, vir óns, gelowiges, kerkmense. Want Jesus se belofte dat die nederiges verhoog sal word, voel vir ons ’n bietjie te vaag, te ver in die toekoms. Dit klink asof ons daar- voor sal moet wag. En die lewe is kort; ek wil nóú “van geweet wees”! Daarom sorg ek dat ander mense, veral die gesagsfigure in my lewe, weet wat ek alles doen. As hulle dit nie raaksien nie, sorg ek dat hulle dit uitvind. Die leefstylafrigters moedig my hierin aan en sê dit is goed vir my selfbeeld.

Hulle is natuurlik reg. Behalwe dat ons nie rekening hou met ons ingebore selfliefde nie, daardie egoïsme-sonder-grense wat ons inherent hoogmoedig maak. Al trappend op ander, minagtend, wegwysend.

Maar hoogmoed, dit weet ons mos, val ver en seer …

Here, maak my wat U wil hê ek moet wees. Die beste “ek” wat in u hande pas.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.