Christene wêreldwyd vier vandeesmaand Paasfees en volgende maand Pinkster, wat van die belangrikste tye op die Christelike kalender is. Net soos Jesus vir ons aan die kruis gesterf en drie dae later uit die dood opgestaan het om ons pyn met liefde te vervang, net so sien Hy die swaarkry van vervolgde Christene vandag raak. Terwyl ons Sy opstanding vier, het ons die geleentheid om hoop en genesing te bring in die lewens van ons vervolgde broers en susters.
Rikiya is ’n weduwee wat traumaberading en hulp ontvang het om haar lewe te herbou nadat sy alles verloor het in ’n gewelddadige Boko Haram-aanval op haar dorpie.
Rikiya was bewus van die gevaar wat Boko Haram-ekstremiste vir haar Christelike gemeenskap in die noorde van Nigerië ingehou het. As weduwee was sy egter nog meer weerloos teen geweld, sosiale uitsluiting, armoede en teistering – sy is weens beide haar geslag en geloof vervolg.
Haar buurman het eendag by haar huis ingebars en geskreeu: “Boko Haram-soldate is op pad om ons aan te val. Huise in die buurdorp word aan die brand gesteek.” Sy het na buite gehardloop en gesien hoe rook die lug vul soos wat die vlamme die dorpie verswelg.
“Ek het my drie kinders gegryp en met hulle gevlug. Aangesien die polisiestasie reeds afgebrand was, het ons by die plaaslike laerskool weggekruip. Koeëls het aanhoudend oor ons koppe gevlieg,” vertel sy.
Rikiya en haar kinders het later die nag tot by die volgende dorp gevlug en daar skuiling gevind. Hulle moes vir twee maande daar wegkruip voordat dit veilig was om terug te keer na hul tuisdorp. Teen dié tyd het sy egter al alles verloor.
“My man het ’n maand voor die aanval siek geword en skielik gesterf. Ek het nog gerou en gewonder hoe ek my gesin alleen gaan versorg. Ek was erg getraumatiseer ná die aanval op ons dorpie. Ons het niks behalwe die klere aan ons lywe gehad nie,” sê sy terwyl sy veg om die trane terug te hou.
Sy het in die rommel rondgekrap en ’n paar stukke verbrande sinkplate gekry waarmee sy vir hulle ’n skuiling gemaak het.
Vennote van Geopende Deure het die bedroefde gemeenskap kort na die aanval besoek, waarna die lang pad na herstel vir Rikiya en haar bure begin het. Dié organisasie het aan haar ’n mikrolening toegestaan om twee bokooie te koop, wat elke seisoen lammers produseer. Sy verkoop die lammers om in basiese behoeftes soos haar kinders se skoolgeld, kos en klere te voorsien.
“Julle het my kom red – eers met traumaberading en toe finansieel. Ek het ontdek dat my trauma soos ’n wond was wat moes genees. Die merke sal egter altyd daar wees. Ek weet eerlikwaar nie wat ek sonder die lening sou doen nie. Julle het vir my weer hoop en genesing gebring.
“God is my Vader en alles in my lewe. Al hierdie dinge het my nader aan Hom gebring as ooit vantevore. Ek is genees, en vertel vir almal dat die Here my genees het,” vertel sy.
Jy kan vervolgde Christene soos Rikiya versterk en bemoedig deur jou gebede. Bid dat God hul hoop en waardigheid sal herstel, asook vir praktiese hulp en geestelike en emosionele genesing.
Jy kan vandag ’n finansiële belegging maak in die lewens van vervolgde gelowiges deur ’n Geskenk van Hoop. Met so min as R65 kan jy verstote vroue help om belangrike lewensvaardighede aan te leer en R72 kan help om ’n Christenweduwee se kinders skool toe te stuur. Jóú bydrae kan help met kos, behuising en opvoeding, asook die aankoop van gewasse en boerdery-toerusting vir ons vervolgde broers en susters. Klik hier om ʼn bydrae te maak.
Danksy jóú ondersteuning en gebede hoef vervolgde Christene nooit hul moeilike pad alleen en sonder hoop aan te pak nie. Al word hulle vervolg, is hulle nooit alleen nie!