Gedagte vir die dag: Hoop met ons

liefde.jpgEn nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde! (1 Korintiërs 13:13)

Paulus sluit sy pragtige poëtiese ode aan die liefde af met hierdie slotreëls, woorde wat al soveel keer herhaal is dat ons dit dalk nie meer ter harte neem nie. Geloof, hoop en liefde word in dieselfde asem genoem – die drie as eenheid. En as eenheid ondersteun hulle mekaar. Sonder geloof kan jy nie hoop nie en sonder hoop kan jy nie liefhê nie.

Soms is die liefde soos ’n mooi droom wat ons ontglip omdat ons dit nie altyd verstaan nie en dit om selfsugtige redes vir onsself wil toe-eien. Ons verwag van ons geliefdes om ons te ondersteun en ons gelukkig te maak, sonder om daaraan te dink dat liefde neem én gee beteken.

Die Here Jesus het ons so liefgehad dat Hy álles vir ons gegee het en steeds verwag ons nog meer. Kortsigtig bly ons vaskyk teen hierdie doodsbestaan, die dag vir dag gesukkel om voor te bly en genoeg te hê vir ons en ons kinders. Wat oorbly sal ons dalk oorweeg om uit te deel en weg te gee – nie sonder om seker maak wat daarvan word en wie dit kry nie!

So was Jesus nie en so is God ook nie. Almal is geregtig op genesing en verlossing van sondes. God se liefde omsluit die hele wêreld en Hy verwag van ons om hierdie hoop aan almal uit te deel. Is daar iemand met wie jy vandag wil praat? Is daar iemand wat jy ken wat hoop opgegee het? Bel, gaan kuier. Gee jou tyd en jou liefde.

Geloof, hoop en liefde blom soos veldblommetjies in dorre streke, en wat ’n aanskoulike gesig is dit nie!

Liewe Here, dis winter en koud, maar ons geniet die warm sonkolletjies tot die lente weer kom. Só, Here, bly ons hoop gevestig op die beloning wat ons eendag sal ontvang.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.