Gedagte vir die dag: Die Hoop wat die beste is

Stiltetyd_Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: Christianheadlines.com

Lees 1 Petrus 1:3-9

In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop … (1 Petrus 1:3)

Ons almal hoop maar – en meestal op die beste. Soms sê ons ewe dapper dat die hoop gelukkig nie beskaam nie. Dat wie nie hoop nie, nie sal slaag nie.

Só ryg ons die een cliché na die ander in, in die hoop dat ons iewers gelukkig genoeg sal wees om te sien dat ons hoop ’n werklikheid word. Die feit van die saak is dat dié hoop-op-die-beste alte dikwels op die slegste uitloop. Dat dit meestal so skouspelagtig beskaam dat ons spoedig alle hoop verloor.

Daarom lê ons ons eerder op bekommernis toe, want as ons vrese nie bewaarheid word nie, smaak ons darem ’n flentertjie verligting. Totdat die volgende stuk angstigheid hom aan ons kom opdring.

Laat ons net eers oor een sakie duidelikheid kry: Die hoop waaroor Petrus hier skryf, bevat ’n spelfout. Dit moet “Hoop” heet. Hoofletter-hoop. Want die hoop wat nooit beskaam nie is nie ’n emosie of ’n goeie wens nie; dit is ’n Persoon.

Hierdie Hoop ís die beste. Méér: Hy is die enigste. Hy hou die toekoms in sy hande, en Hy waarborg ’n gelukkige einde. Nee, Hy belowe nie dat alles altyd klopdisselboom en noukeurig volgens plan sal verloop nie, maar Hy maak daardie steriele ou hoop-op- die-beste totaal onnodig. Hy verwyder die verlammende, futiele vrees-vir-die-toekoms uit die prentjie.

Om te dink dat dit alles by ’n graf begin het, daardie belangrike simbool van hooploosheid. Toe verskyn God se “groot ontferming” (v. 3) mos op die toneel. En die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

U is my lewenshoop, Here Jesus. U maak my vry van nuttelose vrese.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U die Hoop is….U Genade Here is vir my genoeg

Derek ·

Christus het reeds opgestaan en n fisiese mens Johannes 1. N gelowige kan nie met n ongelowige praat tensy die ongelowige tot geloof kom, Handelinge 8. Julius Malema is maar net een wat nie die Woord van God verstaan, soos die ANC en sy alliansie. Dit is nie die regering wat die virus beheer nie, maar die Lig wie stadig maar seker Suid Afrika skoonmaak deur die Woord. Daniel 12 is besig om te manifisteer, die verstandiges versus die onverstandiges. Efesiers 6 is die antwoord, die Woord van God, die almagtige, Elohim, Adonai, Skepper Gees, die Eienaar van alles, die Lig van die nasies oor wie Sy Naam uitgeroep is! Duisternis sal gaan en die Lig sal weer ons land verlig, Yeshua, Yawe, Jehova, die drie Enige God, Skepper God. Die satan sal gaan en erken dat Christus die Redder en Geneesheer is, die Hoe Priester van ons land Matheus 16, die vuur sal kom 2 Petrus 3, boosheid sal gaan! Dankie Elohim!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.