Gedagte vir die dag: Hoop wat lewe

geluk_uitgestrekte-arms_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Alle eer aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy sy ontferming aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het. (1 Petrus 1:3)

Ons het drie yorkshire-terriërs. Partykeer wonder ek waar hulle elke dag al hulle vreugde vandaan kry. Daar is geen tekort aan entoesiasme, liefde en lojaliteit by hulle nie. By hulle leer ek wat hoop is. As ons in die oggend koffie drink, sit hulle soos drie orrelpypies en wag vir hulle beskuit. Dit verskaf ons groot vreugde. As die beskuit op is, kan hulle dit net nie glo nie. Elke oggend het hulle nuwe hoop vir ‘n stukkie beskuit.

As Christene moet ons elke dag ‘n grootse dankbaarheid in ons harte saamdra vir die offer wat Christus vir ons gebring het. Ons kan lewe omdat Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Ons mag nooit ophou om Horn daarvoor te loof en te dank nie.

Deur Jesus het ons die ewige lewe. Deur sy dood mag ons lewe. Hy het met deernis hierdie pad van die kruis gestap. Hy het nie omgedraai en gesê Hy sien nie kans daarvoor nie. Nee, Hy het self aan die kruis bly hang en gesterf, terwyl Hy die mag gehad het om daar te kon afklim. Deur die oorwinning van die doderyk en Jesus se opstanding is ons nou vrygekoop deur die bloed van Jesus.

Omdat Christus al hierdie dinge vir ons gedoen het, moet ons lewe met hoop. Ons moet hoop he vir die toekoms en dit wat ons elke dag moet doen. Hierdie lewende hoop moet ons deur elke dag dra. Ons kan met vreugde lewe in die Naam van Jesus, want Hy het deur sy dood vir ons die lewe geskenk en hierdie nuwe lewe maak dat ons hoop het vir elke dag. Ons vrees nie meer die dood nie, want ons het die lewe na die dood. Hierdie wonderlike wete en gawe wat ons van die Here ontvang het, maak ons hoopvol vir elke dag en die toekoms.

Here, U is die draer van hoop vir elkeen van u kinders. Ek loof u Naam daarvoor. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.