Gedagte vir die dag: Hoop

Hoop_sonsopkoms_Wolke_Reint_Dykema1.jpg

Foto: Reint Dykema

Dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra. (Klaagl 3:21, 24-25)

Lees Klaagliedere 3:18-33

Dit het so sleg met die profeet Jeremia gegaan dat hy alle hoop verloor het: “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here,” bely hy in Klaagliedere 3:18. Maar dan vlam sy hoop tóg weer op. Die rede hiervoor is dat daar geen einde aan God se ontferming is nie; dat sy trou elke môre nuut is; dat Hy goed is vir wie op Hom bly hoop.

Jeremia se redes waarom hy ten spyte van sy haglike omstandig hede kon bly hoop, is steeds van toepassing op jou. As jy in Jesus glo, wéét jy dat jou hoop nooit sal beskaam nie. Want vir jou is hoop nie net ’n gevoel nie, maar ’n Persoon: “Christus is in julle. Hý is julle hoop op die heerlikheid,” skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse (Kol. 1:27). Christelike hoop is die seker wete dat God se beloftes vir jou in die toekoms gaan waar word; dat die hemelse heerlikheid vir jou wag. Hierdie hoop kan nooit van jou weggeneem word nie, omdat dit in God self gesetel is.

Mag jou hoop ál hoe sterker word tot op die dag dat Jesus weer kom.

Here Jesus, dankie dat U my hoop op die heerlikheid is; dat ek seker weet dat U nou reeds besig is om vir my die hemel in gereedheid te bring waar ek eendag vir altyd by U sal wees. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Kan iemand my help met die volgende:- In ons tydperk van 2015 jare : Is daar enige geskrewe dokumente wat dateer uit die eerste 400 jaar en waar is dit .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.