Gedagte vir die dag: Hoopverloor

Wind_windpomp_wolke3_ReintDykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op, maar die goddelose word deur rampe vernietig. (Spreuke 24:16)

Iewers in ons droë land is daar ’n plaas met die naam Hoopverloor waar droogte en veesiektes die boer eens op ’n tyd van sy drome gestroop het en in die middel van niks agtergelaat het. C.J. Langenhoven het toe met vlymskerp humor gekom en gesê: ‘Vir ’n man wat sonder hoop is, is daar min hoop.’

Maar die boer het vir die soveelste keer na die hemel opgekyk en gepleit vir reën. God het hom gehoor en ’n wolkie het op die horison verskyn. Die vlammetjie van hoop wat in die boer se hart bly flikker het, het ’n vuur geword toe die wolke saampak en druppels die dorre aarde tref. Hy het uitgehardloop en in die reën gaan staan en God gedank. Dis die hoeveelste droogte wat hy en sy voorgeslagte al hier oorleef het. Hulle weet hoe dit voel om sonder hoop te wees, maar nie om sonder God te wees nie. Die vlammetjie van hoop flikker soms baie, baie laag, maar dit gaan nie dood nie en word nie uitgeblus nie. Liefde en geloof blaas die vuur weer aan.

Die profeet Jesaja voorspel die koms van die Verlosser wat juis gebroke mense heelmaak: ‘’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie’ (Jes 42:3).

Geen wonder nie hulle sê ’n gelowige is elke keer wanneer hy geval het en weer opgestaan het, sterker as die vorige keer – en hy sal opstaan, al val hy weer en weer. Dis die ongelowige wat bly lê en deur die varke in die modder vertrap word.

Hemelse Vader, wanneer ek aan die verlore seun in die gelykenis dink, besef ek dat hy kon opstaan omdat hy ’n vaderhuis gehad het en so seker was van sy vader se liefde dat hy geweet het hy sal hom terugneem en as sy kind herstel. Hemelvader, ek is daardie kind en U is daardie Vader. Dankie dat u huis se deure wawyd-oop staan.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

neelsie ·

God se genade is vir genoeg vir almal.
Hy kan die reen laat val waar Hy wil.
Met die naderende kouefront sal ons ook nog reen kry.
Die Voorsiener het nog altyd gesorg , Hy sal nou ook…leef uit dankbaarheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.