Gedagte vir die dag: Hou aan vra

 hand_stiltetyd_jackson-david_pixabay.jpg

Foto: Jackson David, pixabay.com

Lees Genesis 25:19-26

Moenie ophou bid nie. (1 Tessalonisense 5:17)

In 2001 was Afrika gedurig in my gedagtes. Ek het in daardie stadium nie eens iemand geken wat daar woon nie, maar ek het skielik gevoel ek word geroep om vir die lande van Afrika te bid.

Ek het vir my ma en my man gevra om vir God te vra om vir my ’n deur oop te maak. My roeping het so sterk geword dat ek God gesmeek het om voor die Desember van daardie jaar vir my sy plan te wys, maar Hy het nie. Het ek opgehou bid? Nee.

’n Jaar het verbygegaan voordat ek ’n e-pos ontvang het wat ek nooit sal vergeet nie. Dit het só begin: “Ek groet jou in die Naam van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” Dit was ’n versoek om ’n leerplan te skryf om die kinders in die regeringskole van Zambië te leer hoe om reg te leef en die boodskap van verlossing met hulle te deel. Die man het gebid dat iemand soos ek oor sy pad sou kom, en ek het gebid vir ’n oop deur om na Afrika te kon gaan. Uiteindelik het God ons gebede beantwoord en ons gehelp om mekaar te ontmoet. Saam het ons 75 000 leerders met die boodskap van ’n rein lewe en die Goeie Nuus van verlossing in Jesus bereik.

Lees Genesis 25:20. Hoe oud was Isak toe hy met Rebekka getrou het? Hy was 40. Ons lees in Genesis 25:26 hoe oud hy was toe hy en Rebekka uiteindelik ’n kind gehad het. Hy was 60. Isak het 20 jaar vir ’n baba gebid! Dit is ’n baie lang tyd, maar dit is presies wat God wil hê ek en jy moet doen.

Soms antwoord God ons nie dadelik nie, want Hy wil hê ons moet beter verstaan wat ons nodig het of waarvoor ons vra. Soms wag God om ons te antwoord sodat ons regtig dankbaar kan wees vir die geskenk wanneer Hy dit vir ons gee. Ander kere laat God ons wag omdat ons nie gereed is nie en eers meer volwasse moet word. Net God weet hoekom Isak op ’n kind moes wag. Maar terwyl hy gewag het, het Isak aanhou bid.

Hartspraatjies: Ma, het God jou al ooit gevra om ’n baie lang tyd te wag vir iets waarvoor jy gebid het? Vertel vir jou dogter daarvan. Dogter, vertel vir jou ma wat jy dink Rebekka gedoen het en hoe sy gevoel het in daardie 20 jaar terwyl hulle gebid en gewag het. Raai sommer net. Daar is nie ’n regte of ’n verkeerde antwoord nie. Bid vir volharding in julle gebedslewe.

Bron: Die Eenjaar Ma en Dogter dagboek deur Dannah Gresh
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.