Gedagte vir die dag: Hou by die waarheid

God

Foto: Argief.

Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” (Joh 8:31-32)

Lees Johannes 8:31-38

Dit lyk baie maal asof die waarheid soek geraak het in ons hedendaagse samelewing. Min mense leef eerlik en openhartig – die meeste het ’n agenda. Mense vertel maklik wit leuens om beter oor te kom in die oë van ander. Dis boonop moeilik om vir ander mense die waarheid omtrent onsself te vertel omdat ons bang is dat hulle aanstoot sal neem of ons sal verwerp. Dis veel makliker om konflik in ons verhoudings te vermy deur die waarheid te sy stap.

Maar God verwag dat sy kinders te alle tye die waarheid sal praat. Jesus het self altyd by die waarheid gehou. Hy belowe sy dissipels dat wanneer Hy vir hulle die Gees van die waarheid sal stuur, die Gees hulle in die hele waarheid sal lei, en dan bid Hy in sy Hoëpriesterlike gebed: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid” (Joh. 17:17). Die waarheid verwys hier na dit wat vir God reg en eg is, skryf Die Bybellennium (p. 1342). As jy onderneem om te alle tye die waarheid te praat en dié dinge te doen wat in God se oë reg is, kan jy daarop staatmaak dat sy waarheid jou sal vry maak.

Here Jesus, leer my om die waarheid te ken, om aan U toegewy te wees deur die waarheid sodat u waarheid my vry sal maak. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Estelle Smith ·

Soos die Woord van die Here se, die waarheid sal jou vrymaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.