Gedagte vir die dag: Hou God se goeie hand vreugdevol vas

Stiltetyd_see_vrolike mense_Juanita Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Aan die ewige God, ons Verlosser op grond van wat Jesus Christus vir ons gedoen het, behoort die heerlikheid, die grootheid, die krag en die mag van altyd af, ook nou en vir altyd. (Judas vers 25)

Toe ek ’n gemeenteleraar was, was daar ’n tradisie in een gemeente om tydens die Oujaarsdiens die name van almal wat deur die loop van die jaar gesterf het voor te lees. Ek het dit nie voortgesit nie. Ek het nie gedink Oujaarsaand is bedoel om so ’n tranetrekkeraand te wees nie. Al is 31 Desember nostalgietyd is dit in dieselfde asem ook die tyd om ons lewe uit trurat te haal en vorentoe te beweeg. Saam met Paulus moet ons ons uitstrek na die nuwe dinge wat voor ons wag. God het nuwe dinge vir ons in gedagte, want ons leef nog. ’n Nuwe seisoen in God se wingerd van genade wag in die nuwe jaar op ons, een waar die Hemelse Tuinier heeltyd saam met ons onderweg is. Ons gaan sy teenwoordigheid en sy vreugde op ongekende nuwe maniere in die nuwe jaar beleef as ons getrou saam met Hom leef.

Vanjaar se sand is amper deur die uurglas. Te midde van ’n sak vol herinneringe wat kruis en dwars oor hierdie jaar rond lê, was God se genade elke oggend nuut in jou lewe. Orals waar die Here se helder lig op jou geskyn het, het die donkerte vinnig padgegee. Weet jy waarvan ek praat? Het jy ook op onverwagse tye die sonstrale van God se genade ervaar? Dan was dit inderdaad ’n vreugdevolle jaar, ’n jaar van groei en insig op die Here se pad. Vertrou asseblief ook vir God om elke nuwe dag op jou verdere lewensreis te omraam met sy vreugde. Hy is by jou al die dae. Sy Gees is jou Leidsman. Die Woord is die Lig op jou lewenspad. Christus self dra jou in die holte van sy hand. Prys sy Naam!

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.