Gedagte vir die dag: Hou moed

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Moed laat ’n mens sy lyding dra; as hy moed verloor het, kan niemand hom dit weer gee nie. (Spreuke 18:14)

Om te hoop en om moed te hou gaan hand aan hand. As jy moed verloor, sal jy ook nie meer hoop nie. God het jou so lief. Hy wil nie hê jy moet jou oorgee aan die sorge van die lewe nie. Ons bekommer ons oor ons gesondheid, ons werksomstandighede, ons huise en ons motors, ons versekeringspremies en mediese fondse, oor petrolpryse wat die hoogte in skiet en tolpaaie wat vir ons wag – dít terwyl daar mense is wat siek is en nie ’n werk of huise of motors het nie.

In Jesus se tyd het die Jode hulle ook bekommer, en dit was moeilike tye. Die Romeine het die land regeer en kwaai belastings gehef. Die Jode is deur hul eie mense uitgebuit en moes met min klaarkom. Daar was ook welgesteldes onder hulle wie se rykdom hulle soms nagte laat wakker lê het. Die armstes onder die armes het op die rand van die skare gehuiwer. Jesus het dieselfde boodskap vir almal gehad. God wat vir die natuur sorg, sorg ook vir die kroon van sy skepping.

‘Julle moet julle dus nie bekommer en vra: “Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?” nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het’ (Matt 6:31–32).

Die probleem met dié soort bekommernisse is dat jy soveel daarop fokus dat jy God nie meer deur jou probleme kan raaksien nie en Hom nie meer dien nie. Miskien het jy jou hele lewe deur so op jou eie gespook en gespartel dat jy God nog nie eens ontmoet het nie.

Jesus sê ons moet lééf; die lewe is belangriker as kos en klere. Daarby voeg Hy die belofte van die ewige lewe vir dié wat God eerste plaas.

Here, help my om nie moed te verloor nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann Smith ·

Geen geredde regverdige mens hoef ooit te twyfel dat God hom nie soos ‘n Vader sal beskerm nie. Hoe weet ons dat ons ‘n regverdig geredde mens is. As on bely dat Jesus vir ons sondes gesterf het is ons regverdig en in Romeine se Jesus vir ons dat die regverdige uit die geloof moet lewe. In ander woorde ons moet dit wat in Sy woord staan glo en as die waarheid aanvaar. Die belofes en waarskuwings. Dan kan ons met blydskap lewe selfs as dinge op die stadium van ons lewe nie is soos ons dit graag wil hê nie. Prys God omdat Hy goed is

marelize ·

Ek prys en loof Hom. Dinge raak net te veel as jy nie weet waar jy jou huurgeld vandaan gaan kry nie … Het darem nog elke aand n stukkie brood om te eet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.