Hou tog net jou kant skoon

Foto: Nico Strydom

Foto: Nico Strydom

Dis wonderlik om af te kom op ʼn Bybelvers wat jy letterlik in elke situasie van jou lewe kan toepas. Romeine 12:21 is so ʼn vers: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

ʼn Mens word wat jy haat. As jy wreedhede aanskou en jy laat wraak- en haatgedagtes toe om in jou nes te skrop, word jy later self wreed.

As jy dié wat onregverdig teenoor jou of jou groepie mense optree genoeg haat, begin jy na ʼn ruk dink dis hoog tyd dat húlle ook bietjie onregverdig behandel word. Uiteindelik is jou binnekant net so boos en dra jy by tot die duisternis, eerder as om jou lig te laat skyn. ʼn Vriend van my sê altyd, “as die duiwel jou nie trek nie, stoot hy jou”!

Duisternis is aansteeklik. Lig gelukkig ook. Die Engelse spreekwoord vat die boodskap van Romeine 12:21 mooi saam: “It is better to light one candle, than to curse the darkness.”

Om te vloek en te skel, te kla en beledig, help op die ou end niks nie, dis soos om duisternis met duisternis te probeer beveg. Dit maak ons deel van die probleem, terwyl die Here wil hê ons moet deel wees van sy oplossing.

Paulus het die woorde van hierdie vers geskryf in ʼn uiters moeilike tyd in die kerkgeskiedenis. Sy eie volk, die Jode, trek swaar onder die Romeine, wat hulle in hul eie land verdruk, vervolging en wreedhede teenoor Christene het toegeneem.

Paulus self is ʼn hele paar keer geslaan, onregverdig in die tronk gegooi en beledig. Tog doen hy en ander in die vroeë kerk ʼn vreemde ding: hulle tree op in die “teenoorgestelde gees”. Teen hierdie agtergrond skryf hy Romeine 12:9-21.

As jy Paulus en ander Christene in die vroeë kerk vandag daaroor kon uitvra, sou hulle sekerlik sê, dit was moeilik, maar ook, dit was die moeite werd. Dit het hulle laat voel hul lewens het betekenis gehad, al was die wêreld op sy kop. Jesus roep ons ook om ʼn lig te wees in die duisternis van ons tyd.

My ma het altyd gesê, “Hou tog net jou kant skoon!”. Dís nie altyd maklik nie, maar wat is die alternatief? Om self boos en onregverdig, hard en wreed te word?

Paulus sê nie in Romeine 12 ons moet net terugsit en niks doen nie, hy sê ons moet aanhou goed doen al is dit hoe moeilik, want net lig kan duisternis oorwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

al ·

wat n verfrissende uitkyk op die lewe! ons is geneig om swaarmoedig te lewe en onbewustelik die duisternis saam met ons te dra. Wanneer ons die slegte met die goeie oorwin, tree ons as wenners en nie as verloorders uit die stryd. Ek seen almal vandag in SA. Mag God se seen en genade werklikheid word in almal se lewe!

Skoon ·

Dis pragtig en beslis ‘n mooi boodskap, tog is dit al so geyk om te se iemand moet sy kant skoonhou. In SA word lojale mense, mense wat hulle kant skoongehou het vir 20 jaar eerste uit die arbeidsmark geskop. Vandag word mense met skoon kante in SA afgemaai en vermoor op plase. Hoe lank gaan ‘n skoon kant ons nog red, of moet ons maar wag vir die Hiernamaals?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.