Gedagte vir die dag: Hou vas aan die geloof

boer-diversityreporter_com1.jpg

Argieffoto Foto: diversityreporter.com

Laat ons elke las van ons afgooi, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Hou Hom voor oë. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. (Heb 12:1-3)

Philip Yancey sê geloof beteken dat jy glo wat nie bewys kan word nie. Jy vertrou by voorbaat op wat net agterna sin sal maak.

Dit is nogal moeilik om te bly glo as daar min sigbare dinge om jou is waaraan jy jou geloof kan vasknoop. Miskien sal dit goed wees as elke Christen sal besef dat dit nie so maklik is om te glo nie. Meer nog, dat dit vir ons onmoontlik is om uit onsself te glo as dit nie God self is wat geloof in ons lewe insleutel nie. God maak dit vir jóú moontlik om te kan glo. Dát jy in Hom glo, is dus nie jou eie prestasie nie, maar suiwer genade.

Jou aardse “reis” gaan ten beste van tye vol slaggate wees en dit is te betwyfel of jy dit hoegenaamd gaan regkry om te lewe soos God van jou verwag. Tog mag jy seker weet dat as jy volhard, as jy styf aan jou geloof vashou en jou oë op Jesus, die Begin en Voleinder van jou geloof, gerig hou jy nie geestelik moeg sal word en uitsak nie, maar eendag by die regte bestemming sal aankom.

Here Jesus, ek loof U dat U dit vir my moontlik maak om aan my geloof vas te hou, om my oë op U gevestig te hou sodat ek eendag by die regte bestemming sal kan uitkom. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sue Lemmer ·

Dankie vir elke dag se ‘Gedagte’. Dit is voorwaar iets om na uit te sien en elke dag mee te begin

Gawie ·

Moord, verkragting, roof…die botone van die nuusmedia. Dit kan ons baie maklik emosioneel en geestelik oorweldig.

Jesus, ook genoem Ewige Vader (Jes 9:6) hét reeds die wêreld oorwin. As iemand wat dekades van uiterste beproewing agter die blad het en tans steeds vashou in geloof, sonder enige resultate, wéét ek dat jy moet kies om te glo of nie.

Dit is ‘n binêre moontlikheid. ongeloof is ook sterk geloof, die negatiewe afswaai van die sinusgolf. Vir dieselfde moeite, kies die opswaai.

Dié wat op die Heer wag, kry NUWE krag. Nie beurtkrag nie, daar is nié “load shedding” in my Vader se buurt nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.