Gedagte vir die dag: Hou vas aan die goeie

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. (Rom 12:9)

Lees Romeine 12:9

Die klompie voorskrifte wat Paulus in vers 9-16 gee, help ons om die opofferende liefde van Jesus met die dinge wat ons doen in ons lewe en gemeente sigbaar te maak. Al hierdie eienskappe was dan ook kenmerkend van Jesus se eie lewe op aarde. Hy het altyd ’n keuse vir die goeie gemaak.

As ons na dinge deur Jesus se oë kyk, is dit vanselfsprekend dat ons ’n afkeer sal hê van verkeerde dinge en die goeie dinge sal aanhang. Om te verafsku wat sleg is, beteken dat jy kies om in Jesus se lig te wandel; dat jy op Hom vertrou en elke dag in afhanklikheid van Hom lewe. Die profeet Miga skryf: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God” (Miga 6:8).

God vra ook van jou om jou verantwoordelikheid teen oor jou medebroers en -susters in Jesus na te kom; om na hulle om te sien, aan hulle liefde en trou te bewys en dat jy jouself sal toets om seker te maak dat jy leef soos God wil hê.

Godsdiens is ’n lewenswyse. As jy werklik gewillig is om dié dinge wat sleg is te verafsku en aan die goeie dinge vas te hou, sal jou hele lewenswyse jou verhouding met God weerspieël. Is dit al waar van jou?

Hemelse Vader, ek wil so graag die goeie doen, maar as ek my kom kry, doen ek al weer die slegte. Vergewe my asseblief en help my om te lewe soos U wil hê. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gertie de Meyer (Senior) ·

Maak Miga 6:8 ‘n lewensstandaard en dit sal seen bring vir ons land!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.