Lees Psalm 23:4-6
U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly … (Psalm 23:6)
Presies hier verander die trant van dié geliefde psalm: Die geloofsbelydenis word nou ’n gebed. Die eerste drie verse verduidelik hoe die Herder se troue sorg lyk, die laaste drie word ’n gesprek met Hom.
Wat gee hiertoe aanleiding? Niks minder nie as die donker dieptes. By die skadu wat die dood oor die rus en vrede kom gooi. Nou kyk die skaap nie meer met sigbare liefde en waardering na die Herder nie; hy hardloop na Hom toe, gaan skuil by Hom. Praat dringend met Hom.
Boonop word die herderbeeld gaandeweg omskep in dié van ’n beskermer, die draer van ’n stok en ’n staf. Een wat die kwaad wat van buite kom verwoed afweer. Wat optel en dra. Wat sy lewe vir sy skape sal gee.
So bring Hy die bedreigdes tot by ’n tafel, maak hulle sit. Die herder sit die stok en die staf neer, dit is nie meer nodig nie. Hy bind ’n voorskoot om, Hy word ’n gasheer, ’n gul onthaler, die skinker van ’n tot boordens toe vol beker.
Die gevaarlike teenstander? Dié staan buite en kan bloot vanuit die donker toekyk. Ontwapen en ontmagtig. Binne skyn die lig en die partytjie gaan vrolik voort.
Dit is hier, hier binne, waar die rus finaal gevind word. Die gekoesterdes is huis toe gebring. Hiér sal hulle bly. Dit sal hul tuiste wees, vir altyd en altyd. Só verloop die lewensreis, en só lyk die tuiskoms.
Dit, dan, is die geliefde storie van die geseëndes en hul oppasser. Die blye boodskap van die Een wat nooit sy eiendom prysgee nie.
U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie. Ons kan dit net ontvang en U daarvoor eer.