Hulle noem hom ‘God se Smokkelaar’

Broer Andrew, die stigter van Geopende Deure (Foto: Verskaf)

Dit was toe hy die eerste keer probeer het om Bybels in Roemenië in te smokkel dat hy verwonderd gelaat is oor die radikale werking van die Here… “Here, wat gaan ek doen?” het Broer Andrew uitgeroep toe hy by die Roemeense grens aangekom het waar die motors só deeglik ondersoek is dat van die motorparte selfs uitmekaargehaal is. “Hulle sal dadelik met enige deeglike inspeksie hierdie Bybels ontdek.”

Hy het toe ʼn stapel Bybels op die voorste sitplek langs hom gesit, wetend dat dit onmoontlik sou wees vir die wagte om dit mis te kyk, en dat dit net ʼn wonderwerk van die Here sou wees as hulle hom deur hierdie grens sou toelaat.

“Ek het my klein VW kewer in ʼn lae rat gesit, stadig nader gekruip aan die amptenaar wat aan die linkerkant van die pad gestaan het, my dokumente vir hom gegee en begin om uit my kar te klim,” vertel Broer Andrew.

Broer Andrew, die stigter van Geopende Deure (Foto: Verskaf)

“Maar sy knie het my deur toegedruk. Hy het my paspoortfoto bekyk, iets neergeskryf, die dokumente onder my neus ingedruk en kortaf gewys dat ek moet ry. Dit alles het seker nie eens 30 sekondes gevat nie. Ek het my motor aangeskakel en stadig vorentoe gekruip… Die wag het die volgende kar afgetrek en beduie dat die bestuurder moes uitklim. Ek het nog ʼn paar meter gery. Die wag het die bestuurder agter my gevra om sy kattebak oop te maak. En toe was ek te ver om te twyfel of ek sowaar, binne 30 sekondes, deur daardie ongelooflike streng kontrolepunt gekom het.”

“My hart het in my keel geklop. Nie oor die opwinding dat ek die grens oorgesteek het nie, maar eerder in verwondering oor die vlugtige kykie wat ek gekry het en die wonderbaarlike werking van die Here!”

Die ”ja”-woord

Broer Andrew, soos hy verkies om genoem te word, is ʼn gewone man wat “ja” gesê het vir God se plan vir sy lewe – min wetend dat hy “ja” gesê het op ʼn avontuur-gevulde lewe. Toe die Koue Oorlog op sy felste was, het Broer Andrew reeds vervolgde Christene begin help wat in verskeie Kommunistiese lande agter die Ystergordyn gewoon het.

Broer Andrew, die stigter van Geopende Deure (Foto: Verskaf)

In God se Smokkelaar (die outobiografie van sy lewe en avonture) vertel hy hoe die Here oor en oor siende oë blind gemaak het, sodat Sy Woord in hulle duisende en later miljoene in geslote lande ingeneem kon word en aan vervolgde Christene versprei is.

Van een man tot die wêreldwye bediening van Geopende Deure

Daardie eerste reis na agter die Ystergordyn in 1955 was net die begin van vele smokkelavonture, en vandag ondersteun Geopende Deure vervolgde Christene in meer as 50 lande reg oor die wêreld deur middel van die voorsiening van Bybels, dissipelskapopleiding, gebedsondersteuning en noodleniging. In 2016 is meer as 2,5 miljoen Bybels en Christelike literatuur aan vervolgde Christene wêreldwyd versprei.

God se Smokkelaar is Broer Andrew se outobiografie waarin hy vertel van ʼn paar van sy eerste smokkel-avonture agter die Ystergordyn. Kry joune hier.

Jy kan Geopende Deure help! Besoek hul webwerf om uit te vind hoe jy die vervolgde Kerk kan ondersteun en om gereeld nuus vanuit die vervolgde Kerk te ontvang. Besoek hul Facebook-blad, Twitter, YouTube en Instagram.

Broer Andrew, die stigter van Geopende Deure (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lana ·

Ek het op skool Broer Andrew se boek twee keer deurgelees en my sendinghart is gebore. Ons het gister God se Smokkelaar as gesin hier agter die Bamboesgordyn klaar gelees. Die nood vir arbeiders is vandag net so groot en ons kan getuig van God se wonderwerkende Hand onder die nasies wat steeds na 2000 jaar onbereik is met die Evangelie.

Anton ·

Dis n goeie organisasie om te ondersteun. Lees hulle boek hoe hulle Bybels in China ingesmokkel Het. Wonderbaarlik.

Piet Pompies ·

Uitstekende berig gegrond op die waarheid… God is liefde

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.