Gedagte vir die dag: Hulle sal God sien

Wallpaper-Love-Nature-8-450x337.jpg‘Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.’ (Matteus 5:8)

Jou hart is die orgaan in jou borskas wat bloed deur jou liggaam pomp. Hou dit op om te funksioneer, sterf jy. As jy kwaad word of opgewonde raak, klop jou hart vinniger. As jy rustig is, klop dit stadig. Geen wonder die hart is ook bekend as die setel van emosies en gevoelens nie. Soms krimp dit letterlik ineen van angs of van hartseer. As jou hartklop nie meer verander nie en altyd dieselfde bly, het jou emosies afgestomp. Jy raak gevoelloos, hardvogtig, boos.

Jesus kyk deur die vroom fassades van die Fariseërs en sien verstokte harte: ‘Ellende wag vir julle, skrifgeleerde en Fariseërs, huigelaars!’ sê Hy reguit. ‘Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbeendere en allerhande onsuiwerheid is’ (Matt 23:27).

Jesus soek rein harte, skoon gewas in sy bloed, witter as sneeu, harte wat geheel en al aan God gewy is. Jy kan nie met jou mond mooi storietjies praat, terwyl jou hart die ene duisterheid is nie. Vormgodsdiens is ’n euwel voor God.

Die Here gee vir sy volk ’n ondubbelsinnige boodskap deur sy profeet Jesaja: ‘Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie’ (Jes 29:13).

Wanneer jy kerk toe gaan of as jy jou stiltetyd beoefen, doen jy dit uit gewoonte of omdat jy ’n hartsverlange het om in God se teenwoordigheid te wees? Dié wat rein van hart is, sal God eendag van aangesig tot aangesig sien, tog ken hulle Hom reeds so goed omdat hulle Hom elke dag ontmoet en met oë van geloof, hoop en liefde in Syne kyk.

Here Jesus, bewaar my hart teen teleurstellings, jaloesie en donker geheime. Reinig my sodat ek onberispelik voor U kan leef.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marie ·

Goeie middag , hoop dit gaan goed. Baie dankie vir vandag se boodskap- hoe vreeslik dat emosies kan afstomp en die feit dat die mens dan gevoelloos, ens. word is verskriklik- dit het my opnuut laat besef, kan nie anders as om te waak en bid heeldag deur nie. Wens jul ‘n geseënde naweek toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.