Gedagte vir die dag: Hulle sal kinders van God genoem word

Hande1.jpg‘Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.’ (Matteus 5:9)

Nasies en volke kom gereeld saam onder die vaandel van die Verenigde Nasies. Hulle stel verdrae op en maak wette om onmenslike oorlogsvoering te probeer verhoed. Hulle stel sanksies in en stuur vredesmagte. Maar oorlog bly ’n voldonge feit. Rebellemagte gooi regerings omver, burgeroorloë buit onskuldiges uit, kinders val in die voorste linies en oumense dwaal tussen puinhope rond. Die kernwapenverbod keer nouliks die opbou van atoombomdraende missiele en magsbehepte nasies vergroot hul weermag ten koste van ’n gesonde samelewing.

Waarheen is die wêreld op pad? Dis ’n vraag wat reeds in Jesus se tyd gevra is, ’n tyd toe vals vrede in stand gehou is deur die Romeinse militêre mag – nog sterk genoeg om te dink dat hul heerskappy vir altyd sal aanhou. Maar die Hunne, die Gote en Vandale was reeds in die mis van die toekoms aan die ontwaak. Ons, wat oor eeue heen terugkyk, weet hoe ondoeltreffend die vredemakers van die wêreld is, hoe wanhopig hul pogings en hoe min ’n handtekening op ’n stuk papier werd is.

As dit nie God se vrede is nie, is dit nie waarlik vrede nie. Ware vrede is net moontlik tussen mense wat hul afhanklikheid van God erken, wat huil oor sonde, wat sagmoedig is, dors na geregtigheid, en barmhartig en rein van hart is.

Koester jy diep in hart ’n wrok wat jou lewe versuur? Jy het tot ’n vergelyk gekom met die persoon waarmee jy in ’n regsgeding gewikkel was, maar jy kan hom nie vergewe nie en vergeet sal jy nooit. Moenie dat hy jou vrede steel en jou verhouding met God vertroebel nie. Gaan maak reg met hom, bely jou skuld ook en vra God om te keer dat die onmin weer oorneem.

Dankie, Here Jesus, dat U die skeidsmure van sonde tussen ons en God afgebreek het, ons met God versoen en ons geseën het met die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.