Gedagte vir die dag: Hulle sal versadig word

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

‘Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.’ (Matteus 5:6)

Dis nie maklik om vandag tussen reg en verkeerd te onderskei nie. Wat voorheen sonde was, word nou aanvaarbaar en is selfs aanprysingswaardig. Persoonlike aanspreeklikheid bestaan skaars, korrupsie word onderhandelbaar, menselewens is min werd. Fluitjieblasers word aangemoedig om verklarings te maak en verloor dan hul werk. Dokters, verpleegsters, landdroste en onderwysers staak vir hoër salarisse. Pleidooie om die verantwoordelike bestuur van ons natuurlike hulpbronne val op dowe ore. Belangrike lêers verdwyn uit polisiekantore en die gereg buig haar agteroor om mense in magsposisies te bevoordeel. Die kerk swyg terwyl preekstoele gebruik word as politieke podiums.

Beswaarmakers strem glo vooruitgang en word as onverdraagsaam uitgemaak. Dié wat dors na geregtigheid beland met hul rug teen die muur of word in ’n hoek vasgedruk. Niemand steek hier meer hand in eie boesem en ondersoek sy eie aandeel aan die smart van onskuldiges nie.

Johannes sê in sy eerste brief aan die gelowiges: ‘Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie’ (1 Joh 3:4–5).

Dis wat Jesus vra. Ondersoek jou hart, wees eerlik en maak reg wat verkeerd is. Die oordeel gaan kom en dan sal die skape van die bokke geskei word. Intussen nooi Hy ons uit om sy wyn te drink en sy brood te eet en versadig te word.

Here Jesus, neem asseblief elke stukkie ongeregtigheid weg uit my lewe en versadig my met die goeie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.