Gedagte vir die dag: Hulle sal vertroos word

eensaam_hartseer_see_water_pixabay

Foto: pixabay.com

‘Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.’ (Matteus 5:4)

In Psalm 56:9 sê Dawid: ‘My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.’ Hy het dié psalm geskryf toe die Filistyne hom in Gat gevange geneem het.

Die Here weet van elke tronk waarin ons vasgevang is – siekte, verslawing, armoede. Niks gaan by Hom verby nie. Hy sien ons trane, Hy tel hulle, Hy skryf hulle in sy boek op, Hy treur saam met ons.

Jesus het gehuil oor sy vriend Lasarus, ook oor die mense wat saam met Hom om die graf gestaan het. Hy het gehuil, die laaste keer voor Hy Jerusalem onder toejuiging van die skare binnegegaan het – oor die valsheid en kortstondigheid van hul eerbetoon, hul sonde en alles wat nog op die stad gewag het: soveel oorloë en terrorisme, soveel verwoesting en lewensverlies tot vandag toe. Vrede ontwyk Jerusalem en sy inwoners, en Jesus het toe al geweet hoekom.

Hy het gehuil en gesê: ‘As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor’ (Luk 19:42).

Om hul sondes te bely en Jesus as hul Saligmaker aan te neem was nie vir die meeste inwoners van Jerusalem beskore nie. Hy troos almal wat treur oor hul sondes, Hy druk hulle soos die verlore seun se pa aan sy bors en hou hulle vas tot in alle ewigheid.

Here Jesus, dankie dat ek by U kan huil.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.