Gedagte vir die dag: Hulp kom van God af

IMG_1266.jpgEk sal met lofliedere vir U ‘n offer bring. Ek sal doen wat ek beloof het. Net die Here bring verlossing!” (Jona 2:9)

Jona het ‘n opdrag van God ontvang om met die mense van Nineve te gaan praat. Die stad en sy mense het nie ‘n goeie naam gehad nie. Hulle was sleg. Jona het dadelik klaargemaak om na Tarsis te vlug. Hy het op ‘n boot geklim en die reis aangepak. ‘n Groot storm het losgebars en die matrose was baie bang. Jona het besef dit is sy ongehoorsaamheid aan die Here wat aangespreek word. Hy sê toe vir die mense om hom in die see te gooi, want dan sou die storm bedaar.

God stuur ‘n groot vis wat Jona insluk. In die vis besef Jona hy was verkeerd en hy praat ernstig met God. Jona 2:9 sê dat hulp net van die Here af kom. Jona weet baie duidelik dat hy verkeerd gedoen het. Hy het weggevlug van sy opdrag wat God aan hom gegee het. Hy wou nie luister nie. Hy het teen God se wil opgetree. Die beste is dat hy gedink het die Here kan hom nie kry nie. Toe die storm uitbreek, weet hy dadelik dit gebeur as gevolg van sy eie ongehoorsaamheid.

Hoe baie keer doen ons goed teen God se wil. Sonde is teen God se wil. Ons almal weet wanneer ons sonde doen. Die Heilige Gees kla ons gewete aan. Ons kan nie wegkom van God nie. Hy weet ook waar ons elke oomblik is. Hy ken ons deur en deur. Ons kan God nie flous nie.

Wat moet ek dan doen? Jy moet eerstens jou sonde bely en voor God erken wat jy gedoen het. Daarna moet jy regmaak. Hulp kom net van die Here af. Jona het erken hy was verkeerd en het toe om God se hulp gesmeek. God het hom gered vanuit die vis se maag. Sy hulpgeroep is beantwoord.

Roep vandag na God, want hulp kom net van Hom af!

Here, ek roep U aan in my benoudheid, want hulp kom net van U af. Vergewe asseblief my sonde. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

treurgrond ·

My hulp is van die Here. Here ek vertrou U heeltemal. Dinge gebeur in U tyd my God, en ek buig my kniee voor U neer en se net dankie vir als, al is dit ‘n klein dingetjie – soos ‘n saaidjie wat groei – dankie net vir die blou wolke bo my. Dankie net vir asemhaal. Dankie dankie dankie. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.