Gedagte vir die dag: Hulp wanneer ons swak is

man-veld-boom-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die Gees van God help ons in ons onbeholpenheid. (Romeine 8:26)       

Miskien is dink jy: “Ons maak tog almal foute! Ons leef nie altyd reg nie, ons het nie altyd lief nie en vergewe nie altyd dadelik nie. Gaan God ons dan oordeel en verwerp?” Ja, ons ís vol draadwerk en nonsens en, ja, ons vlees kry menigmaal die oorhand. Wys my die dissipel van Jesus by wie hierdie toestand nie baie bekend is nie!

In ons teksvers vandag praat Paulus eintlik van gebed en hoe die Gees ons bystaan wanneer ons nie weet wat om te bid nie. Tog is die bystand van die Gees ook waar in ons feilbaarheid as mense. Gehoorsaamheid aan Christus is nie primêr dat ons alles “reg” doen nie, maar dat ons in ons harte opreg aan Hom onderwerp is. Dit wat ’n mens doen nádat jy in die vlees opgetree het, demonstreer jou gesindheid van gehoorsaamheid met krag. Kan jy met God saamstem dat jy verkeerd was? Kan jy die vlees in jou erken? Kan jy om vergifnis vra en regmaak waar jy moet? Dis een van die kosbare bedieninge van die Heilige Gees. Hy lei ons in die volle waarheid in. Dikwels is dit langs die weg van mislukking en teleurstelling.

Die hart wat deur God veroordeel word, is die hart wat weier om te buig, weier om te erken, weier om te leer, weier om om vergifnis te vra. Dit is wat ’n hoogmoedige en trotse hart is. God weerstaan die mense wat te veel van hulleself dink, maar gee genade aan die nederiges (Jak 4:6). Gehoorsaamheid is eerstens ’n geboë gesindheid voor God.

Vader, my grootste heerlikheid is op my knieë voor U.

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.