Gedagte vir die dag:  Hy, en ons

Foto: pixabay.com

Lees Titus 3:4-7

Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. (Titus 3:5)

Hierdie vier verse, half weggesteek in ’n half weggesteekte Paulus- briefie, bly van die helderste samevattings van die Christus-evangelie in die hele Bybel. Dit hoort dik onderstreep in elke gelowige se Bybel. Dit is nou buiten die yskasdeur waarteen dit opgeplak behoort te wees …

Dit is juis vandag ’n tydige herinnering aan waaroor Kersfees gaan. Dit is niks minder nie as ons alibi vir eergister se feesvrolikheid. Die rede vir elke geskenk wat gegee en ontvang is, die diepste motief vir die heerlike bederf aan die feestafel.

Hoor ook die sterk woorde en veelseggende beskrywings: werk- woorde soos “verskyn” (v. 4), “verlos” (v. 5), “vrygespreek” (v. 7). En uitdrukkings uit die hart van ons geloof, soos “die goedheid van God” (v. 4), “sy eie ontferming” (v. 5), “God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort” (v. 6).

Hieruit blyk ook dié onweerlegbare feit: Die een wat dit alles bewerk, die Doener-sonder-weerga, is “God ons Verlosser” (v. 4). Al die werkwoorde vertel van sy werk en al die uitdrukkings beskryf sy motivering.

As jy mooi lees, sal jy ook sien dat “ons” ’n prominente plek in hierdie verse inneem – gaan tel gerus hoeveel keer jy dit hier lees. En nadat jy dit getel het, gaan kyk dan presies waar dit voorkom … Reg gekyk! Daardie “ons” is keer op keer aan die Doener, die Gewer, se ontvangkant. Dit kan nie anders nie. Dit is die evangelie dié. En hierdie blye boodskap tref ons altyd met bak hande aan, as mense wat gereed staan om God se geskenke in besit te neem. En hopelik ook in gebruik te neem. Want die nuwe jaar wag.

Ek leef van hierdie vier Bybelverse, Here! Dankie hiervoor.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.